Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 24 Mei  2021
Terug na e-Afrikaner

Zuma se strydkreet “Umshini wami - Bring my masjiengeweer”
is uiters onvanpas in ʼn gewelddadige Suid-Afrika 


Deur Jan Bosman 
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond 

Op 14 Mei maak die polisieminister Bheki Cele die nuutste misdaadstatistieke vir die eerste kwartaal bekend, vir die periode 1 Januarie tot 31 Maart 2021. Dit herbevestig Suid-Afrika se gewelddadige aard: 
Moord is met 8,4% op sedert die vorige kwartaal; 
Poging tot moord, 8,7% 
In totaal is 4976 mense vermoor. Dit is 55 moorde per dag 
24 lede van die Polisie is vermoor 
11 plaasmoorde in die tyd 
In KwaZulu-Natal neem moord met 16,9% toe en in die Oos-Kaap 21,5%.

ʼn Paar dae later op 26 Mei 2021 verskyn mnr Jacob Zuma in die Pietermaritzburg Hooggeregshof in die einste KwaZulu-Natal en toe die saak na die soveelste keer uitgestel is verskyn mnr Zuma op die verhoog saam met die lede van sy Radikale Ekonomiese Transformasie en sing weer sy bekende strydkreet “Awuleth’ Umshini Wami”, beter bekend as “Bring my masjengeweer”. Hoekom wil mens weer mens vra? Die keer was die kordate hofnar Carl Niehaus, nie geklee in militêre kamoefleer uniform nie en was die troepe van die ANC se Umkhonto we Sizwe Militêre Veterane Vereniging nie te opsigtelik nie. 

Umshini wami is ʼn eenvoudige lied wat herhaaldelik vra “Bring my masjiengeweer.” Andrew Mlangeni, 'n voormalige en leidende vryheidsvegter van die ANC het Zuma reeds in 2007 gerepudieer oor die sing van die lied wat volgens hom “ 'n militêre karakter het wat tydens die stryd teen apartheid gebruik is, en nie meer relevant is nie. Mlangeni het toe reeds gesê dat dit beteken “Gee my my wapen, ek gaan apartheid beveg”. Net soos Mlangeni destyds gevra het “Met wie veg jy? Jou eie mense?” moet mens vandag weer vra Met wie veg jy, mnr Zuma en wat is Zuma se bedoeling met die opruiende lied wat vir skares, heelwat waarskynlik ongeletterd sê “bring ons wapens – ons gaan veg?” 

Die bekende politieke kommentator en skrywer RW Johnson het die ANC se militêre vleuel beskryf as, “the worst led and most ineffective” van alle bevrydingsbewegings in Afrika. Dit is dieselfde leiers wat gekamoefleerde oorblyfsels van die beweging deesdae oral mobiliseer vir politieke faksie vergaderings.   

Geweld, opsweping/aanhitsing is duidelik ter sprake en is dit kan ooglopend nie meer relevant wees in die Suid-Afrika van 2021 nie. Met 55 moorde per dag in Suid-Afrika sou mens gedink het dat ʼn voormalige president wat so gereeld in omstredenheid gedompel dalk verantwoordelik sou optree. Om sy ondersteuners in ʼn reeds gewelddadige land en ewe moorddadige provinsie, op te sweep is nie onskuldig nie. Dit is dus nie onmoontlik dat die massas insluitende die MK geklede troepe, dalk niks daarvan sou dink dat nog ʼn moord met die goedkeuring en selfs instemming van hul leier maar kan plaasvind nie. Zuma se strydlied “bring my masjiengeweer” se implikasie het al die potensiaal om in die volgende misdaadstatistieke gereflekteer te word.   

Die sogenaamde Radikale Ekonomiese Transformasie leiers met hulle aanhitsende retoriek regverdig onluste, geweld, boewery en vandalisme maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir hulle aksies en opstokery nie. Die ANC se faksiegevegte vind hulle basis in wraak, vergelding en viktimisasie. Daar is geen aanspreeklikheid nie en geen verantwoordelikheid nie, terwyl die gevolge daarvan elke dag in koerant voorblaaie uitbasuin en in die volgende kwartaal se misdaadstatistieke gereflekteer word. 

Zuma se strydkreet “Umshini wami - Bring my masjiengeweer” is uiters onvanpas in ʼn gewelddadige Suid-Afrika en ontstellend onverantwoordelik in ʼn moorddadige KwaZulu-Natal. Ook dit het konsekwensies maar mnr Zuma is waarskynlik verby die punt van omgee. 

Hierdie artikel is ingedien as kommentaar vir Pretoria FM - 20 Mei 2021

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: