Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 27 Julie 2021
Terug na e-Afrikaner

Skrywe aan Minister Bheki Cele - Onttrek eerder die vuurwapenbeheerwetsonwerp in sy geheel 


Deur Jan Bosman 
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond 

UITTREKSELS VAN BRIEF AAN DIE MINISTER VAN POLISIE: MNR BHEKI CELE

Insake: Die Voorgestelde Vuurwapenbeheer wetsontwerp 
waarvan kommentaar op 2 Augustus 2021 ingedien moet word  
- Trek die Voorgestelde Vuurwapenbeheer wetsontwerp in geheel terug en besin oor die hele proses. Soek eerder vennote in die stryd teen misdaad en anargie 

Terwyl dit die staat se taak, ondersteun deur die Suid-Afrikaanse Polisie en weermag, is om wet en orde af te dwing en stabiliteit te verseker, het dit in die laaste weke geblyk, nie die geval te wees nie. Regoor die land moes Suid-Afrikaners hulself, hul families en hul eiendomme terselfdertyd beveilig in ʼn tyd van grootskaalse onluste en anargie. Die skade en dodetal sou waarskynlik veel meer en erger gewees het in ʼn ontwapende omgewing, soos wat dit in die voorgestelde wetsontwerp voorsien word. Daar is tans geen aanduiding dat die situasie sodanig verbeter het om die publiek se vertroue eensklaps in beide die polisie en die weermag te bevestig nie.

Dit het intussen sedert die grootskaalse onruste begin het, duidelik geblyk dat interne woelinge in die regering groter onrustigheid en onsekerheid skep. Buite die regering is daar ook opposisiepartye en buite-parlementêre groepe wat baat by rassespanning en gevolglik teer op emosie en aanhitsing. 

In hierdie tyd van verhoogde spanning is dit allermins die tyd om met die voorgestelde wetgewing Suid-Afrikaners regoor die politieke en rasspektrum te ontneem van hul vuurwapens. Die Vuurwapenbeheer Konsepwetgewing word gesien as nog ʼn aanslag op eiendomsreg en in die geval is dit vuurwapen onteiening van Suid-Afrikaanse burgers. 

In ʼn land waarin 8,3 uit elke 100 000 van Suid-Afrikaanse burgers vermoor word (4 976 in die eerste drie maande van 2021) en wanneer kontakmisdaad toeneem en daar gemiddeld een plaasaanval per dag is, is dit ondenkbaar dat die Suid-Afrikaanse Polisie dit as teiken stel om gewone wetsgehoorsame mense te ontwapen, in ʼn tyd wanneer vuurwapens en selfverdediging juis hul enigste buffer is teen algehele anargie.

Dit sou in die lig van omstandighede soos bo beskryf en veel meer inligting waaroor die minister waarskynlik beskik – dus eerder wenslik wees om eerder die voorgestelde wetgewing in sy geheel te onttrek. Tans is daar druk op instellings om kommentaar teen 2 Augustus 2021 in te dien. Die Minister weet dat die meerderheid kommentaar in elk geval gekant is teen die voorgestelde wetgewing. 

Gebruik dan eerder die kapasiteit en hulpbronne waaroor die Minister beskik om die bestaande vermoëns uit brei en te verstewig. Dit sou insluit ʼn totale herskikking van die Suid-Afrikaanse vuurwapenregister om ʼn ordelike proses daar te stel waarbinne Suid-Afrikaners wel wettige eienaars word. Hiermee kan die SAPD en Suid-Afrikaners wat wettig oor vuurwapens beskik dan eerder ʼn potensiële vennootskap sluit in ʼn gesamentlike stryd teen misdaad. 

Doen die Minister dit nie en hy ontneem Suid-Afrikaners steeds van vuurwapens, is die potensiaal van vervreemding en ongehoorsaamheid groter. Suid-Afrika sal sonder slag of stoot in ʼn slagveld en bloedbad omskep word met toenemende misdaadterreur en anargie. 

 ______________________

In die tussentyd doen ons 'n beroep op elkeen wat 'n belang het op die besit van  vuurwapens om insette en kommentaar te lewer - Volg die onderstaande skakel vir meer besonderhede.  

Die Afrikanerbond is in 'n finale proses met die opstel van kommentaar. 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: