Media verklaring -  4 Maart 2026
Terug na media

Die AB gee erkenning aan Brugbouers en Afrikaner Uitnemendheid


 
 Verklaring deur die Afrikanerbond 

Die Afrikanerbond gee erkenning
aan Brugbouers en Afrikaner Uitnemendheid

Die Afrikanerbond het gedurende 2025 ons lede en afdelings uitgenooi om waardige persone te nomineer vir die Brugbouer Toekenning en Afrikaner Uitnemendheid-toekenning. Hierdeur wil ons erkenning gee aan 'n individu, groep of instansie wat uitnemende bydraes lewer tot die bou van brûe tussen verskillende gemeenskappe in Suid-Afrika aan die een kant, maar ook aan Afrikaners wat uitnemend presteer.

Dit word elke dag duidelik dat ons ʼn verskeidenheid van brûe sal moet bou. Tussen wit en swart, brûe tussen tale en kulture, tussen minderhede, tussen minderhede en meerderhede en tussen ons verskillende geskiedenisse en erfenisse. Dit is die breë diversiteit van Suid-Afrika en as Afrikaners is ons ideaal gerat om brue te bou in verhoudinge en interaksie met andere. In Suid-Afrika is ons verskillende en diverse gemeenskappe maar baie van ons deel dieselfde belange en waardes al verskil ons soms ideologies of kultureel.

Binne die tema van Afrikaners – Brugbouers na die toekoms en ons visie “As Afrikaners bou ons saam aan die toekoms van Suid-Afrika” werk ons binne die eie en die nasionale belang. Ons appèl is tot die Afrikaners wat in die lengte en wydte van ons land woon en werk en elke dag ʼn verskil in hulle gemeenskappe maak. 
• Dit is ons visie vir Afrikaners wat Suid-Afrika as hulle tuiste beskou en terdeë bewus is daarvan hulle lotgevalle ineengestrengel is met die van alle Suid-Afrikaners. 
• Dit is ons visie vir Afrikaners wat hulleself nie kan of wil isoleer van Suid-Afrika nie. 
• Dit is ons visie van Afrikaners wat elke dag brûe bou na ander Suid-Afrikaners om ons gemeenskaplike belange aan te spreek. 

Daar is na ons mening deurgaans ʼn behoefte aan die bou van brûe tussen Suid-Afrikaners en ons Suid-Afrikaanse gemeenskappe en diversiteit. Baie werk word in die verband gedoen en die ontvangers van die Afrikanerbond se toekennings het gewys dat hulle op hulle onderskeie terreine besig is met die bou van noodsaaklike brûe tussen kulture en gemeenskappe. 

Die volgende persone ontvang in 2026 die Afrikanerbond se Brugbouer of Afrikaner Uitnemendheid toekenning: 

  Dr Matthews Phosa is ʼn Brugbouer. Dr Matthews Phosa se lewe en werk is ’n inspirasie en ’n herinnering dat eenheid deur diversiteit en begrip en respek vir mekaar, bereik kan word deur die krag van taal, empatie en toewyding. Sy liefde vir Afrikaans, poësie en sy leierskap het kulturele, taalkundige en historiese grense oorkom om ’n ruimte te skep waar Suid-Afrikaners mekaar kan ontmoet en verstaan. Deur hierdie toekenning aan hom te maak bevestig die Afrikanerbond ook sy verbintenis tot versoening, samewerking en die viering van uitnemende individue wat ’n gedeelde toekoms vir alle Suid-Afrikaners bou. 

  Rassie Erasmus is ʼn Brugbouer. Deur sy benadering as hoofafrigter van die Springbokke het hy 'n aktiewe rol gespeel in die bevordering van nasionale eenheid, veral deur sy strategiese leierskap wat die span se sukses gekoppel het aan breër sosiale doelwitte om historiese verdelings te oorskry, soos gesien in hoe die span se suksesse mense van verskillende rasse, tale en sosio-ekonomiese agtergronde verenig het rondom 'n gedeelde identiteit. Dit het bewys dat Suid-Afrika, ondanks uitdagings soos ongelykheid en korrupsie, 'n kultuur van wen en prestasie kan ondersteun. (Toekenning in absentia) 

  Dr Angelique Coetzee is ʼn Brugbouer. In haar lang mediese loopbaan het sy ‘n onuitwisbare impak gemaak op die bou van verhoudings tussen mense van verskillende agtergronde, kultuurgroepe en sosio-ekonomiese vlakke. Met meer as 30 jaar se toegewyde diens in primêre sorg, gesondheidsbestuur en beleid kon sy as 'n gereelde, kalm en feitelike stem in plaaslike en internasionale media, gedurende die COVID-19-pandemie spanning en waninligting help ontmagtig. Deur toeganklike gesondheidskommunikasie in beide Afrikaans en Engels, met 'n konsekwente nie-politiese fokus op gemeenskapswelstand, het sy versoening bevorder en vertroue opgebou.

  Leon Schuster is ʼn Brugbouer. In sy lewenswerk as ikoniese Suid-Afrikaanse komediant, akteur en filmmaker, verdien hy ongetwyfeld die erkenning as 'n Afrikaner brugbouer wat deur sy films en werk verhoudings tussen verskillende gemeenskappe bevorder het. In 'n land met 'n geskiedenis van konflik het hy sy loopbaan gewy aan die skepping van lag en gedeelde vreugde, wat grense oorgesteek het en versoening, wedersydse begrip en eenheid bevorder het. Deur sy werk is ruimtes geskep waar gemeenskappe mekaar kon ontmoet en verstaan. Hy het die land laat lag om empatie te bou – nie deur ernstige debatte nie, maar deur situasies te skets wat almal se menslikheid beklemtoon. 
  Lourensa Eckard is ʼn Brugbouer. Deur haar loopbaan in ondersoekende joernalistiek en met die interaksie met gaste in die huidige program In Gesprek bevorder sy inklusiewe gesprekke wat kulturele identiteit nie isoleer nie, maar integreer met breër samelewingsdialoë. Sy is 'n rolmodel vir ʼn jonger generasie deur te demonstreer hoe ons taal en kultuur kan floreer in 'n multikulturele konteks. Sy het dit deurgaans reggekry om dialoog te skep waar spanning bestaan. In 'n land soos Suid-Afrika, waar politieke- en kulturele verdeeldheid nog vars is, gebruik sy die program om brûe te bou, antwoorde te kry vir uitdagende probleme en balans te bring in kontroversiële kwessies 

 Dr Danie Langner is ʼn Afrikaner by Uitnemendheid. Sy bydraes op vele terreine en oor baie jare is in volkome ooreenstemming met die Afrikanerbond se doelwitte om uitnemendheid, leierskap en toewyding aan die Afrikanerbelang te vier. Sy lewenswyse getuig van uitsonderlike leierskap in kultuurerfenis en gemeenskapsontwikkeling, die bevordering van Afrikaner-identiteit en erfenisse gemeenskapsdiens en bemagtiging van jong Afrikaners. Op die wyse dien hy as ’n uitnemende rolmodel vir toekomstige geslagte, deur sy toekomsgerigte en intellektuele bydraes op vele terreine.  


Die geleentheid waartydens die toekennings aan ontvangers oorhandig sal word is: 
Datum: Donderdag 5 Maart 2026 
Plek: Foxwood House
Formaat: Skemerkelk geleentheid 
Tyd: 17:30 tot 20:00 

Brugbou Toekennings: 'n Brugbouer is 'n individu, groep of instansie wat aktief werk om verhoudings en samewerking tussen verskillende gemeenskappe in Suid-Afrika te bevorder, met die doel om versoening, wedersydse begrip en eenheid te skep. In die konteks van Suid-Afrika se diverse en histories verdeelde samelewing, is 'n brugbouer iemand wat kulturele, taalkundige, sosiale of historiese grense oorkom deur dialoog, samewerking en wedersydse respek te bevorder. Hulle skep ruimtes waar gemeenskappe mekaar kan ontmoet, verstaan en saamwerk aan 'n gedeelde toekoms, en beliggaam waardes soos empatie, oopheid en toewyding aan versoening. Hierdie toekenning van die Afrikanerbond vier dus die toewyding aan versoening, samewerking en die bevordering van wedersydse respek en begrip in 'n diverse samelewing.

Afrikaner Uitnemendheid Toekenning: Uitnemendheid verwys na die eienskap of toestand van voortreflikheid, uitmuntendheid, voortreflikheid, of besondere kwaliteit. Dit beskryf iets of iemand wat bo die gemiddelde uitstyg in terme van etiese waardes, prestasie, vaardigheid, of waarde. Dit impliseer dikwels 'n hoë standaard van leierskap en word gebruik om lof of erkenning uit te druk. Uitnemende Afrikaners is na ons mening Afrikaners of Afrikaner instansies wat deur hul prestasies, leierskap en toewyding die Afrikanerbelang bevorder. Die toekenning vier uitnemendheid in Afrikaner etiese waardes en ingesteldheid, kultuur, akademie, entrepreneurskap, intellektuele bydraes, gemeenskapsdiens en die uitlewing van Afrikanerwaardes. Hierdie toekenning van die Afrikanerbond is vir Afrikaners of Afrikaner instansies wat deur hul prestasies, leierskap en toewyding die Afrikanerbelang bevorder.

Alle ontvangers sal ʼn kort geleentheid vir ʼn spreekbeurt kry na ontvangs van die toekennings. 

Dr Mathews Phosa wat ook ʼn ontvanger is van ʼn Brugbouer toekenning sal as gasspreker die aanwesiges kortliks toespreek oor sy siening oor Suid-Afrika in 2026 en wat die toekoms vir Suid-Afrikaners inhou.

Date: 4 Maart 2026