Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 6 Oktober 2020
Terug na e-Afrikaner

'n Bevoegde staatsdiens - Die ANC sit die pot weer mis met kader ontplooiing


Deur Jan Bosman 
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond 

In sy weeklikse nuusbrief van 20 Januarie 2020 skryf President Ramaphosa (Afrikaanse vertaling) “Ons is daartoe verbind om ’n einde te bring aan die praktyk dat ongekwalifiseerde mense danksy hul politieke netwerke in poste aangestel word. Daar behoort gevolge te wees vir alle staatsamptenare wat nie hul werk doen nie.” Engelse teks “A capable state starts with the people who work in it. Officials and managers must possess the right financial and technical skills and other expertise. We are committed to end the practice of poorly qualified individuals being parachuted into positions of authority through political patronage. There should be consequences for all those in the public service who do not do their work.” 

In sy toespraak op Maandag 6 Oktober 2020, na afloop van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee werkskomitee herbevestig hy egter die ANC se uitgediende standpunt dat ten einde die ANC uit te bou en te versterk dit onder andere nodig is om bevoegde kaders in die staatsdiens te ontplooi. 

Ons verwys die president weer eens na Art 197 (3) van die grondwet wat bepaal “Geen werknemer van die staatsdiens mag begunstig of benadeel word slegs omdat die persoon 'n bepaalde politieke party of saak steun nie.” Dit kan dus nie sommer net aanvaar word dat die ANC of die ANC President hul party wil bou deur lojale kaders na die staatsdiens te wil ontplooi nie. 

Mens sou dink dat die uitgebreide staatskaping en meegaande korrupsie die ANC dalk tot ander insigte gebring het oor kaders wat eerstens aan die party lojaal moet wees. Dit is waar die kern van die probleem lê want reeds op Woensdag 17 Julie 2019 sê mnr. Jaco Zuma voor die Zondo-kommissie dat “lojaliteit aan die ANC is een van die faktore wat oorweeg word wanneer individue vir die regering en ondernemings in staatsbesit aangestel word.” Dit wil voorkom asof dit in Oktober 2020 nog steeds die uitgangspunt van die ANC en sy leierskap is.  

Deur die ANC se toepassing van kader-ontplooiing het die ANC die staatsdiens en ander semi-staatsinstellings absoluut verpolitiseer met rampspoedige gevolge vir die mislukte staat deur staatskaping, korrupsie en wanbestuur. ‘n Eens suksesvolle staatsinfrastruktuur is deur wanbestuur, gebrekkige bestuur of doodeenvoudige onbekwaamheid laat verval omdat lojale party kaders in posisies van verantwoordelik geplaas is waarvoor hulle nie opgelei is, nie ervaring het nie maar wel lojaal aan die ANC is. 

Indien Mnr Ramaphosa erns het met ʼn sosiale verdrag – dan moet dit insluit dat alle Suid-Afrikaners deel moet wees van ʼn bevoegde staatsdiens en NIE die ongrondwetlike uitgangspunt van kaartdraende lidmaatskap van die ANC nie. ʼn Bevoegde staatsdiens sal slegs gerealiseer word mits daar afgesien word van party lojaliteit en diskriminerende maatreëls en veel eerder gefokus word op meriete, kundigheid, aanspreeklikheid en verantwoordbaarheid. Enige iets anders gaan die staat net nog verder laat misluk. 

Deel met ander belangstellendes

Share by: