Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Oktober 2023

BELA en Afrikaanse onderwys - Standpunte

 

Beeld en Burger se redaksionele kommentaar oor die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (BELA) op 28 September 2023

 “Dit is ‘n ou truuk van die ANC om sy mislukkings te probeer toesmeer deur verdere sentralisering. So is dit ook hier met die mislukte onderwysstelsel: Laat daar geen twyfel wees nie - dit sal funksionerende openbare skole óók laat misluk met ‘n bedenklike poging om “gelykheid” te skep.” 

 

Nadat ANC en EFF lede van die parlement op Dinsdag 26 September hulle meerderheid gebruik het om die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (BELA) goed te keur het verskeie organisasies daarop gereageer. SAOU en AfriForum het reeds aangedui dat hulle besig is met regsaksie. Onder andere word kommer uitgespreek dat die tussen 6000 en 9000 skriftelike voorleggings wat nie na behore oorweeg is nie.

 

_____________________________

 

Is die koeël deur die kerk vir onderwys?

Deur dr. Jaco Deacon,

Uitvoerende hoof van FEDSAS.

 

Daar moet nog baie water in die see loop voordat die voorgestelde wysigings wet word. Tot dan het skoolbeheerliggame steeds ooreenkomstig die bepalings van die Skolewet die verantwoordelikheid om die taal- en toelatingsbeleid van skole te bepaal. Dit sal die geval bly tot die President die wysigingswet onderteken en die termyn van die huidige administrasie loop nou vinnig ten einde.

 

Wat gebeur volgende?

Die wetsontwerp moet nou deur die Nasionale Vergadering (NV) gedebatteer en aanvaar word. As die samewerking tussen die ANC en die EFF in die portefeuljekomitee as norm gebruik word, sal die ANC eenvoudig sy meerderheid in die parlement gebruik om dieselfde daar te doen. Die wetsontwerp moet daarna deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) aanvaar word. Hier behoort opposisiepartye groter teenstand te bied en prosedurele aspekte behoort geopper te word.

 

Die NRP kan die wetsontwerp sonder wysigings aanvaar, ’n gewysigde wetsontwerp aanvaar of die wetsontwerp in geheel verwerp. Indien dit sonder wysigings aanvaar word, moet dit vir goedkeuring aan die President voorgelê word. As die NRP die wetsontwerp verwerp of as die NV weier om die NRP se gewysigde weergawe van die wetsontwerp aan te neem, moet die saak na die mediasiekomitee verwys word. As bemiddeling misluk, sal die wetsontwerp binne 30 dae na die NV vir aanvaarding verwys word en vir hierdie aanvaarding moet twee-derdes van die NV ten gunste van die wysigingswet stem.

 

Die wetsontwerp word daarna eers na die President verwys om dit te onderteken voordat dit van krag sal wees en die spreekwoordelike koeël deur die kerk sal wees. Die President kan ook ʼn datum bepaal vanaf wanneer die bepalings van krag sal wees. As die President bedenkinge oor die grondwetlikheid het, kan hy dit terugverwys na die NV en NRP vir heroorweging. As ’n heroorweegde wetsontwerp die President se bekommernisse akkommodeer, kan die President dit onderteken en goedkeur. Indien dit nie die President se bekommernisse akkommodeer nie, kan die President dit na die Konstitusionele Hof verwys vir ’n beslissing oor die grondwetlikheid.

 

Kortom, dit is veilig om te sê dat daar steeds ’n lang pad vir die BELA-wetsontwerp is voordat dit ’n wet sal wees. Daar is ook min tyd vir die parlement om dit te finaliseer voor die volgende algemene verkiesing. Politici is ook deeglik bewus van verskillende partye wat regsaksie oorweeg indien die wetsontwerp ʼn wet word.

 

Wat is die geskilpunte?

Die twee grootste geskilpunte vir openbare skole is die bepalings oor taal en toelating en die voorstel dat die finale besluit by die departementshoof van onderwys in elke provinsie berus. Bepalings oor tuisonderrig het ook dié gemeenskap warm onder die kraag.

 

Die regerende party het deurlopend die standpunt gehuldig dat “sekere gemeenskappe” taal en toelating gebruik om leerders uit te sluit en dus diskriminerend van aard is.  Toelatingsbeleid is in wese diskriminerend omdat daar kriteria vir toelating bepaal moet word. Die Grondwet is egter teen onbillike diskriminasie gekant.

   

Taal en toelating het egter die sondebokke vir onbeholpe amptenare en politici geword. Sistemiese gebreke soos te min skole, swak onderrig en power bestuur word nie aangespreek nie.

 

Geen politikus kon egter ʼn skool uitwys wat onbillik oor taal of toelating gediskrimineer het nie. Indien so ’n skool geïdentifiseer is, sou ʼn mens tereg kon vra waarom die provinsiale LUR nie die besluit van die beheerliggaam tydens die appèlproses omgekeer het nie. Indien so ’n beheerliggaam dan blatant gediskrimineer het, waarom het die onderwyshoof nie die bestaande artikels 22 (terugtrekking van beheerliggame se magte) of 25 (versuim van beheerliggame om werksaamhede te verrig) gebruik om die saak reg te stel nie? Indien “sekere gemeenskappe” taal en toelating gebruik om leerders uit te sluit en die departementshoof en LUR is daarvan bewus en het niks ooreenkomstig die Skolewet daaraan gedoen nie, het hulle eenvoudig hul plig versuim.

 

Volgens die jongste data (School Realities 2022) is daar 22 589 openbare skole in Suid-Afrika. Gauteng het byvoorbeeld vandag 2 056 openbare skole teen oor die 2 045 skole van 2012. ʼn Skamele 12 bykomende skole ná ’n hele dekade. Daar het eenvoudig niks gekom van die huidige premier, mnr. Panyaza Lesufi, se “160 nuwe skole in 3 jaar” nie. Die “flaters” moet nou met politieke vlugvoetigheid reggestel word deur Afrikaanse skole die skuld te gee dat daar nie plek is nie. Al word al die Afrikaanse skole oornag Engels, gaan dit nie die oplossing wees nie.

 

Met ’n algemene verkiesing om die draai, gaan BELA nou oor politiek en nie onderwys nie. Skole en kinders is die pionne in die magspel om swak bestuur en goedkoop politieke skuiwe te verdoesel deur die reëls van die spel oor te neem.

 

BELA gaan nie die gehalte van die land se onderwys verbeter nie. Dit gaan nie puttoilette uitwis of modderskole herstel nie. Dit gaan nie sorg vir handboeke in Limpopo of onderwysers in die klaskamer in die Oos-Kaap nie. Dit gaan nie die verkoop van poste in KZN stop nie. In teendeel, dit neem ons terug na ʼn stelsel van staatsbeheer en staatskole waar die staat op ʼn totalitêre wyse sy vinger kan rondswaai en besluit wie sal waar skoolgaan en in welke taal. Dit gaan ons goeie skole swaar tref.

 

Wat staan gewone burgers te doen?

Ons, die mense van Suid-Afrika, sal moet opstaan vir openbare skole en baie harder baklei vir gehalte-onderwys vir elke kind in ons land. Ons moet besluitnemers aanspreeklik hou vir die nakoming van hul verantwoordelikhede. Goeie ouers moet hand opsteek en staan as kandidate in volgende jaar se beheerliggaamverkiesing en elke ouer moet gaan stem. Raak betrokke by jou plaaslike skool en gee finansiële ondersteuning vir organisasies wat die geldigheid van BELA in die hof gaan toets. Gewone burgers van die land moet hul stem in die algemene verkiesing gaan uitbring en politici aanspreeklik hou vir die stand van openbare onderwys. Die bal is wel in ons hande.

 

(FEDSAS is ’n vrywillige vereniging van skoolbeheerliggame van openbare skole en staan die behoud en bevordering van gehalte-onderwys in dié skole voor. Byna 2000 openbare skole is reeds lid van FEDSAS.)

 

_________________________

 

Sentralisering van skoolbeleide - Implikasies vir onderwys is nie verreken nie en skuif die fokus weg van disfunksionele skole 

 

Die Afrikanerbond het omvattend gereageer op Konsepwet B2-2022 (“Basic Education Laws Amendment Bill”). Ons het ernstige kommer registreer oor die Konsepwetsontwerp wat belangrike wysigingsvoorstelle inhou met verreikende gevolge vir belange soos moedertaalonderrig en die relatiewe vryheid wat beheerliggame tans geniet om te kan beskik oor toelatings- en taalbeleid. (Sien die skakel na die volledige kommentaar)

 

Met meer as 80% van skole wat disfunksioneel is, sou dit tog redelik wees om te dink dat die herstel van díe skole 'n prioriteit vir die departement sou wees. Om nog meer magte by ʼn beheerliggaam weg te neem en te sentraliseer deur dit aan ʼn departement te gee wat reeds hulle agenda duidelik gedemonstreer het, is om vir wolf skaapwagter te maak. Die nasionale departement en ook provinsiale departemente is eenvoudig nie te vertrou met so ʼn belangrike kwessie nie. 

 

Dit word toenemend duidelik dat die herstel van disfunksionele skole gepaard moet gaan met harde werk en kreatiewe denke. Dit saam met die nodige politieke wil is egter heeltemal afwesig. Daarom is dit makliker om die werkende en funksionerende skole verder te teiken met ʼn eenvormige taalbeleid en dan die skole verder af te breek. Dit is meestal ook Afrikaanse skole wat as eilande van uitnemendheid en met 'n betrokke ouergemeenskap goed funksioneer en wat in die visier is van die minister, die nasionale departement en veral sekere provinsiale heethoofde, soos Panyaza Lesufi al telkemale duidelik gedemonstreer het. 

 

Die Afrikanerbond sal saam met ander organisasies en gemeenskappe werk wat die onsinnige, ondeurdagte en onwerkbare voorstelle van die departement van onderwys sal stuit. Taalimperialisme, sentralisering en verengelsing is NIE die antwoord nie, veral nie in ʼn land met grondwetlike regte wat verleen word aan taal-kultuur- en geloofsgroepe nie.

 

Lees die Afrikanerbond se volledige kommentaar aanlyn

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: