Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Oktober 2023

Prins Mangosuthu Buthelezi - Siening oor Afrikaners 

 

Die Afrikanerbond het op Saterdag 9 September 2023 nadat dit bekend gemaak is dat Prins Mangosuthu Buthelezi oorlede is, in ʼn verklaring medelye uitgespreek met die familie, die koningsgesin, tradisionele leiers, en die Zoeloe-nasie.

 

Prins Mangosuthu Buthelezi was een van die fakkeldraers wat die hoop en verwagtinge van demokratiese Suid-Afrika hoog gehou het.  Die Afrikanerbond het verskeie kere met Prins Mangosuthu Buthelezi kontak gehad in gesprekke by die parlement. Sy merkwaardige groeteboodskap aan die Afrikanerbond met ons Eeufeesviering staan uit. Die uittreksel is vir ons belangrik want dit was die basis van die wedersydse respek “My eie identiteit as ‘n lid van die Zoeloe-nasie het my nog altyd geleer om ander kulture ook te respekteer. Ek weet hoe diep julle, jul tradisies, kultuur en taal ag en hoe hierdie waardes julle identiteit vorm meer as enigiets anders. Ek glo dat hierdie gevoel van ‘n identiteit mag is, nie net vir die Afrikaner-nasie nie maar vir Suid-Afrika as geheel. Dis waar dat ons land ‘n tuiste is wat ons almal deel. Ons verlede is hier. Ons nou is hier en ons toekoms is hier, in die land. Dis hoekom dit dan belangrik is dat ons hande vat om saam oplossings te vind vir al die probleme wat ons in die oë staar, met die wete dat ons bydraes uniek is. Die Afrikaner-nasie het nog altyd probleme getakel met toewyding wat geen gelyke het nie.” Lees die merkwaardige boodskap hier

 https://online.fliphtml5.com/hwiua/djxp/ 

 

Die rol van Prins Mangosuthu Buthelezi in dekades van nasiebou, versoening en pogings tot vrede in geweld geteisterde gebiede kan nie geringgeskat word nie. Sy leierskap, wysheid en insigte het hom een van die uitstaande leiers van die oorgang na die nuwe bedeling 1994 gemaak. Vandag amper 30-jaar later eer ons sy nalatenskap.

 _______________________________

Buthelezi se sienings oor Afrikaners en die Afrikaner-Broederbond

 

Lees gerus prins Mangosuthu Buthelezi se sienings oor Afrikaners, Afrikaner leiers en die Afrikaner-Broederbond in die onderstaande dokumente wat gemerk is met die toepaslike skakels.

 

”I find the Afrikaner story of how he got himself up from the depths of poverty, the dungeon of poverty, through self-help. It is all in the story of my inspiration. To the extent that, as leader of Inkatha and Chief Minister, I even send some young people to Canada to the Coady Institute there, to learn about cooperatives, which the Afrikaners used too. And also on how to mobilise savings. Because I believed exactly not... I was inspired by what the Afrikaners did.” (Uittreksel uit onderhoud op 5 November 2013)

 

Vir die samestelling van die eeufeesboek van die Afrikanerbond het die historikus, dr. Jan-Ad Stemmet 'n aantal onderhoude gehad met prominente Suid-Afrikaners. Op 5 November 2013 is die onderhoud gevoer met Mangosuthu Buthelezi. Die boek wat ʼn aantal verkorte en geredigeerde onderhoude bevat is opgeneem in Broederskap. Die boek is voltooi deur prof OJO Ferreira en is saamgestel vir die Junie 2018 Eeufeesviering van die Afrikanerbond. Die onderstaande uittreksel is die verkorte weergawe van die volledige onderhoud met Mangosuthu Buthelezi wat op 5 November 2013 gehou is. Die skakel na die volledige onderhoud is ook onder ingesluit.

https://online.fliphtml5.com/hwiua/mssc/ (Kort geredigeerde uittreksel uit Broederskap) 

https://online.fliphtml5.com/hwiua/satn/ (Volledige transkripsie van die onderhoud met Mangosuthu Buthelezi.)

https://online.fliphtml5.com/hwiua/djxp/#p=1 (Groeteboodskap van Mangosuthu Buthelezi aan die Afrikanerbond met sy eeufeesviering 5 Junie 2018)

 

  _______________________________

ʼn Herinnering aan dr. Buthelezi

Deur Kobus Rossouw

 

Met verwysing na die huldigingsdiens vir dr Buthelezi by die Voortrekkermonument op Vrydag 15 September wil ek tog die volgende staaltjie vertel. Ek dink dit was in '93/94 dat ek en Theo de Jager en enkele JRB raadslede en NP jeuglede die Inkatha Jeugbrigade se kongres in Ulundi bygewoon het.

 

 Nadat ons die vorige aand in die Rhino Bar in Ulundi se Holiday Inn die Zoeloes tot in die vroeë oggendure met Afrikaanse liedjies vermaak het, het ons die volgende oggend die 4000+ Zoeloes se dreunsang en danspassies onder die markiestente redelik Piet Retief-agtig ervaar.

 

Aan die einde van dr Buthulezi se 2.5 uurlange toespraak waar daar alternatiewelik in Zoeloe, Sotho en Engels getolk is, kry ons toe n briefie om n groeteboodskap te lewer. Theo stuur my terstond om my kitaar te gaan haal en nadat hy allerhande mooi dinge gesê het, sê hy wraggieswaar dat hy dit tog jammer vind dat daar nie in Afrikaans ook getolk is nie! Hy komplimenteer die Zoeloes met hul massasang maar sê dat ons paar Afrikaners hul nou gaan wys hoe óns kan sing! Ons klompie (ek dink ons was 5) gaan staan toe om n losstaande mikrofoon en al wat ek aan kan dink is "Die trane die rol oor jou, Bokkie"! Toe ons die tweede keer by "nee, nee, nee my Dolla, nee" kom, toe's die Zoeloes op hul voete en sing hulle saam! Ons het al gaan sit toe toi-toi hul nog op "nee, nee...".

 

Dis toe dat dr Buthelezi na die podium stap, hul met een handgebaar stilmaak en verskoning maak vir hul gebrek aan gasvryheid en respek deur nie te sorg vir ‘n Afrikaanse tolk nie. "Maar" sê hy "hy weet daar is een Afrikaanse lied wat alle Zoeloes op skool leer en hul gaan dit nou sing uit respek vir hul Afrikanegaste". En hy trek los met "Hoe ry die Boere sit-sit-so..." en die Zoeloes sing daardie hele lied tot selfs by die Kaapse nooiens wat tiegeliengelieng sing! Agterna het sy privaatsekretaris ons vertel dit was die eerste keer wat hy gehoor het dat dr Buthelezi ‘n lied insit!

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: