Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Kersfees Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Desember 2023

Christen én 'n Afrikaner

 

Deur Prof Fika J van Rensburg*

 

Die onderstaande artikel van prof. Fika van Rensburg het op 14 November 2023 in Beeld en Netwerk24 verskyn. Met die vriendelike instemming van Prof Fika van rensburg en met volle erkenning aan Netwerk24 plaas ons dit graag.


Ek wil oor Christen-Afrikanerskap praat - onbevange, van die knieë af uit die hart uit. Ek is ‘n wit man, gebore in die vroeë 1950’s. Ek is Afrikaner en Christen. Albei van geboorte af, maar ook albei vanweë bewuste besluite as volwassene. Dit is nie maar net my lót om Afrikaner te wees nie; dit is deel van God se beskikking, en ek wíl dit ook wees. En: Ek is nie ‘n Christen bloot omdat my ouers dit was nie, maar omdat ek bewustelik Christus nie net as my Verlosser erken nie, maar as die Báás van my lewe, die Een wat hier en nou my doen en late, my praat en stilbly bepaal.


Ek is ‘n Afrikaner én ‘n Christen. My Christenwees bring ‘n dieper dimensie in my Afrikanerwees. My doen en late word nie bepaal deur my natuurlike geaardheid nie, maar deur wat ek op grond van die Bybel weet God wil hê;. Só kry ek dit al meer reg om nie net my eie belang te soek nie, om nie my en my volk as verhewe bo ander te ag nie, om nie aanstoot te gee nie, om myself in die skoene van die ander te verplaas en om ‘n broerskap met alle Christene oor kleur- en volksgrense heen te ervaar. Wanneer ek hierin misluk, bely ek my sonde en soek ek vergifnis en versoening.


Ek is ‘n Afrikaner én ‘n Suid-Afrikaner. Ek is op so ‘n manier ‘n Afrikaner dat ek daarom en daardeur saam met ander volke, groepe en individue - óók nie-Christene - aan die groeiproses van die nuwe Suid-Afrikaanse nasie kan meehelp. Dít wat die Bokke kon regkry, wil ek al meer sien gebeur en laat gebeur - ongeag taal, kultuur en ras.


Ek doen mee aan die kreatiewe ontwikkeling van die Afrikanerkultuur. Nie net vervloë jare se manier van doen is kultuur nie; ook dit wat ek en ander Afrikaners vandag núút doen, is kultuur (dink maar aan ons Afrikaanse musiek). En as dit afwyk van die tradisionele, is ek nie daaroor verskonend nie. Die nuwe tyd skep nuwe uitdagings, nuwe geleenthede en nuwe eise. Ou beginsels moet núút toegepas word, dikwels met verrassende nuwe resultate.


Ek is nie ‘n Afrikaner-chauvinis nie. Op my kultuureie is ek trots; dit hou egter nie in dat ek eksklusief en selfverheffend is nie. Ek wil nie ander van my kultuur uitsluit nie, maar dit juis vir ander aantreklik maak. Dit hou onder meer in dat ek bloot positief ‘n Afrikaner ís, en nie net op ‘n verdedigende reaksionêre wyse altyd met nie-Afrikaners oorhoops is nie. Ek distansieer my van laertrek, van toemaak om te beskerm en te koester en van uitsluitende, voorskriftelike en dus negatiewe afstotende en selfverheffende Afrikanerskap.


Ek is geen kultuur-imperialis nie. Baie van die vorige nasionale simbole het - deels deur die uitsluitende wyse waarop dit gebruik en beleef is - slegs simbole van die Afrikaner geword. Ek maak ‘n punt daarvan om te onthou dat die simboliese dinge wat vir my deel van die “goeie ou dae” is, vir ander groepe in ons land simbole van lyding en veronregting kan wees. Daarom is ek bereid om van hierdie simbole af te skaal van die nasionale vlak na die vlak van die Afrikanervolk. Daarmee saam beywer ek my om saam met persone uit ander volke of groepe in Suid-Afrika nuwe en werklik nasionale (dus Suid-Afrikaanse) simbole daar te stel. Daarom is ons landsvlag mý vlag. En die Volkslied is mý lied. En Afrikaans? As ander Suid-Afrikaners Afrikaans bruikbaar vind, is ek dankbaar. Indien nie, gaan dit niks afdoen aan my eie agting vir en funksionele gebruikmaking van my moedertaal nie, ook as dit nodig word om my daarvoor op die konstitusionele hof te beroep. My taalvoorkeur mag egter nie ons Suid-Afrikanisme benadeel nie.


Ek het geen kleurvooroordeel nie. Ons is almal Suid-Afrikaners en ek verwelkom enigiemand, ook bruin en swart landgenote, wat as Afrikaans of Afrikaner wil identifiseer. Ek is, soos Jesus gewys het, lief vir my naaste - ongeag ras of taal of kultuur. Bangmaak-politiek wat sosiale en ekonomiese steun uit Afrikanervrese probeer tap, stoot my daarom af.


Ek sien die “ons” in ‘n uitdrukking soos “ons land” ruim. Dit sluit almal in wat die staatkundig-geografiese gebied “Suid-Afrika” as hul tuiste beskou. “Ons vyand” is dus diegene wat die voortbestaan en saambestaan van almal in “ons land” bedreig.


Ek werk mee aan ‘n selfversekerde, volwasse saambestaan-mentaliteit. Die Afrikaner het in sy selfbeeld die afgelope eeu onder meer drie groeifases deurgemaak: van ‘n hoed-in-die-hand-houding, tot ‘n bedreigde laertrekmentaliteit, tot ‘n imperialistiese politieke diktatuur. As Christen-Afrikaners moet ons meewerk dat Afrikaners deur bereidheid tot vergifnis en versoening promoveer tot mense met ‘n selfversekerde, volwasse saambestaan-mentaliteit. Dan sal ons as identifiseerbare groep bly voortbestaan. So sal Afrikaners ‘n belangrike bydrae lewer tot die volledige en ware selfstandigwording en nasiewording van almal in ons land.


Só kan ons kop optel oor die verlede: dankbaar-trots oor die dinge wat die toets van die tyd en van God se Woord deurstaan en nederig-erkennend oor dié dinge wat hierdie toets dop. Só is ons nie mense wat ‘n wensbeentjie het waar hul ruggraat moet wees nie! Só kan ons - soos Langenhoven dit gestel het - ons taak tot vermaaklikheid maak, en ons swaarkry met lekkerkry klaarkry. Só antwoord ons op die roeping wat ons Koning, Jesus Christus, op ons as Christen-Afrikaners lê. Só kan ons onverskrokke ons roeping vervul, tot voordeel van ons land, híér waar God ons geplaas het.


**Prof. Janse van Rensburg is ‘n Nuwe-Testamentikus en voormalige rektor van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus.


Lees die artikel by Netwerk24

https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/christen-en-n-afrikaner-20231114

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: