Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          September 2023

Uitnodiging Gauteng-Suid se gesprek oor koalisies: 30 September 2023

 

Die Afrikanerbond Gauteng-Suid ontmoet op Saterdag 30 September 2023 om 10:30 vir ‘n saamtrek, saamkuier en saamgesels geleentheid. Met die oog op die 2024 verkiesing is die gasspreker by die geleentheid die bekende kommentator, Professor Theo Venter van UJ, en die tema van bespreking sal "KOALISIES", wees.  Die onlangse veelpartykonvensie in Kemptonpark, die ondertekening van die Veelpartyhandves vir Suid-Afrika (VHSA) het in die week van 17 Augustus belangrike ooreenkomste bereik wat die grondslag lê vir opposisie-samewerking in volgende jaar se verkiesing. Volgens Netwerk 24 is dit die uitvloeisel van drie drukfaktore:

  • die krisis in die land onder ANC-regering;
  • kiesers se honger na nuwe alternatiewe; en
  • die druk van donateurs wat ‘n gevestigde belang het in doeltreffende landsbestuur en moeg is dat opposisiepartye hul geld gebruik om met mekaar te baklei.

 

Die Nasionale Konvensie van opposisieleiers het plaasgevind by Emperors Palace in Kempton Park en is waarskynlik simbolies gekies aangesien dit die oorspronklike perseel van die Wêreldhandelsentrum is waar die belangrike Kodesa onderhandelinge plaasgevind het, wat die nuwe demokratiese bedeling tot gevolg gehad het.

 

In die skrywe aan die leiers van die politieke partye het die voorsiter van die Afrikanerbond die wens uitgespreek dat die “gesprekke tydens die Nasionale Konvensie enersyds 'n optimistiese stemming van gelykberegtiging sal aanwakker wat onder andere migrasie uit die land sal laat afneem, en 'n nuwe vaderlandsliefde sal kweek. Dit sal andersyds tallose kulturele, sosiale en ekonomiese praktyke skep wat bydra dat ons land skouspelagtig sal ontwikkel. 'n Nuwe land van vryheid sal gebore word. Daar rus ʼn groot en belangrike taak op u skouers. U is die politieke leiers wat in die tydgees van die Kodesa onderhandelinge weer hoop aan Suid-Afrikaners moet gee. Ons is ʼn gebroke samelewing. Dit kan weer geheel word. Ons dra elke leier op in gebed en wil vertrou dat die proses suksesvol sal wees.  Mag u in die gees van die verlede en waarin ons vanaf 1990 en vanuit konflik ʼn oplossing kon vind, opnuut weer inspirasie vind.”

 

Kom luister na die insigte van Prof Theo Venter en gesels saam. Die byeenkoms sal gehou word by Laerskool Unika, h/v Oaklaan en Abbotweg, Robindale, Randburg.

 

Die voorsitter van die Nasionale Raad, Dries Wiese, sal ook die geleentheid bywoon en terugvoer gee oor samewerking tussen Afrikaners en onlangse gesprekke in die verband.

 

Die finale program en kostes verbonde en roete aanwysings sal gekommunikeer word. Indien u wil bywoon is u welkom om nou reeds so aan te dui na dieeike@abond.co.za  of dui aan op die onderstaande vorm.

 

Met AB groete

Estelle Visser (Gebiedsvoorsitter) 

Ek woon die geleentheid by op 30 September 2023

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: