Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Maart 2023

Afrikanerskap is ʼn belewenis teenoor Kunsmatige intelligensie (ChatGPT) wat klinies reageer

 

Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris

 

ChatGPT is 'n kunsmatige Intelligensie taalmodel, en wat ontwikkel is deur OpenAI, Baie is nou al geskryf hieroor en dit is ʼn hulpmiddel wat gekom het om te bly. ChatGPT staan vir Chat Generative Pre-Trained Transformer. Toe ek die kletsbot ChatGPT op die OpenAI webwerf vra om ChatGPT in Afrikaans te verduidelik was die antwoord: “Dit is ontwerp om mensagtige gesprekke te kan voer, antwoorde te gee op vrae en tekste te genereer wat soos deur 'n mens geskryf lyk. Dit gebruik 'n tegniek wat bekend staan as deep learning, waar dit geleer het van baie groot hoeveelhede data en 'n groot rekenaarstelsel gebruik om hierdie inligting te verwerk. ChatGPT is 'n baie nuttige hulpmiddel vir navorsing, kommunikasie, onderwys en baie ander toepassings.”

 

Universiteite en skole sal nog antwoorde moet gee oor die gebruik van ChatGPT en hoe dit as ondersteunende hulpmiddel gebruik kan word indien enigsins. Prof Basie van Solms, direkteur van die sentrum van kuberveiligheid aan die Universiteit van Johannesburg waarsku ook oor die ongereguleerde gebruik van Chat-GPT as deel van kunsmatige intelligensie (KI) en sê dan in ʼn onderhoud in Netwerk24 “Die meeste mense se begrip van KI lei tot vrese oor werkloosheid - wanneer robotte jou werk oorneem. Maar daar is selfs groter risiko’s sê van Solms: “KI-stelsels het die potensiaal om inbreuk op menseregte te maak en sê dan dat ʼn “Kernaspek hiervan is om te voorkom dat die algoritmes van so ʼn stelsel bevooroordeeld is. Dit beteken dat die algoritme - doelbewus of per ongeluk - so geskryf word dat dit sekere gevalle op grond van onaanvaarbare kriteria kan uitsluit. Om dié rede, en verskeie ander, is dit belangrik dat daar etiese en regulêre voorskrifte vir die ontwikkeling, toetsing en implementering van KI-stelsels moet wees.”

 

Aan die begin van Februarie 2023 het ek in ʼn vraag op Chat-GPT gevra – Wat is ʼn Afrikaner? Die vraag is onmiddellik netjies in Afrikaans soos volg beantwoord:  (Enkele voor die handliggende taalfoute is reggestel) 

“'n Afrikaner is 'n persoon van Nederlandse afkoms in Suid-Afrika. Dit sluit ook in mense van Nederlandse afstammelinge wat in Suid-Afrika gebore is. Hierdie bevolking was 'n belangrike kultuurgroepering en het 'n unieke identiteit, taal en kultuur ontwikkel. 'n Afrikaner word omskryf as 'n persoon van Nederlandse afkoms of 'n persoon wie se voorouers Nederlands as hul moedertaal gebruik het, en wat in Suid-Afrika bly. Hierdie omskrywing sluit ook in die kinders van mense wat van ander lande na Suid-Afrika verhuis het, maar Nederlands as hul taal gebruik het.”

 

Uit die antwoord is dit duidelik dat ChatGPT dus wel ʼn bevooroordeelde siening het en Afrikaners op ʼn wyse omskryf wat nie voldoen aan hedendaagse sieninge nie. Sommige Afrikaners, ekself ingesluit, se voorouers mag van Nederland wees. In die Bosmans se geval strek dit so ver terug as 1706 (317 jaar gelede) en is my Nederlandse afkoms nie die belangrikste kenmerk van my Afrikanerskap nie. 

 

ChatGPT se geleerde algoritme ervaring op die tydstip was om die Afrikaner konsep slegs te koppel aan die Nederlandse oorsprong, maar het bevestig dat dit verwys na ʼn spesifieke bevolking in Suid-Afrika.

 

Slegs in ʼn paar dae het ChatGPT homself verder geleer en op ʼn verdere navraag oor wat ʼn Afrikaner is, op 22 Februarie 2023  soos volg beantwoord “Afrikaners is 'n etniese groep in Suid-Afrika wat gewoonlik beskou word as 'n subgroep van die blanke bevolking van die land. Die meeste Afrikaners is afstammelinge van Nederlandse, Duitse en Franse koloniste wat na Suid-Afrika gekom het in die 17de, 18de en 19de eeu. Die taal wat deur die meeste Afrikaners gespreek word, is Afrikaans, wat sy oorsprong vind in die Nederlands en wat deur die eeue heen deur die Afrikaner-bevolking gevorm en ontwikkel is. Afrikaners het 'n ryk geskiedenis in Suid-Afrika en het 'n groot rol gespeel in die land se politiek, kultuur en samelewing. Hulle het in die verlede 'n sentrale rol gespeel in die apartheid-stelsel, wat van 1948 tot 1994 in Suid-Afrika geheers het, maar sedertdien het baie Afrikaners hulleself beskou as deel van 'n nuwe, meer inklusiewe en multikulturele Suid-Afrika.”

 

ChatGPT het in ʼn kwessie van ʼn paar dae verskillende omskrywings gegee en al meer begin om Afrikanerskap te verstaan. Op ʼn navraag oor die naweek van 5 Maart 2023 het Chat-GPT ʼn Afrikaner soos volg omskryf: “'n Afrikaner is 'n persoon wat van oorsprong 'n wit Suid-Afrikaner is en as moedertaal Afrikaans praat. Hierdie term verwys na 'n lid van die gemeenskap van mense wat hul etniese en kulturele identiteit as Afrikaanssprekendes identifiseer. Die Afrikaner-kultuur en -taal het 'n historiese oorsprong in die Nederlandse en Vlaamse koloniste wat na Suid-Afrika gemigreer het, maar dit het oor die jare heen ontwikkel en verander deur invloede van ander kulture en tale in Suid-Afrika. Die term "Afrikaner" kan ook na politieke, sosiale of kulturele identiteit verwys en dit is belangrik om te onthou dat nie alle Afrikaanssprekendes as "Afrikaners" beskou word nie, en omgekeerd, nie alle Afrikaners praat Afrikaans nie.”

 

Hoe definieer ons as Afrikaners in ons eie ervaring en sonder ChatGPT dan ʼn Afrikaner in 2023? Afrikanerskap staan nie in spanning of in isolasie teenoor ander identiteite nie, maar saam met 'n veelvoud van identiteite. Daar is kulturele kenmerke wat Afrikaners saamsnoer soos 'n gemeenskaplike geskiedenis, ʼn Christelike lewens- en wêreldbeskouing en 'n Westerse lewenswyse.

 

Die geskiedenis en die hede wys dat Afrikaners min of meer soos volg omskryf kan word. Natuurlik is alles nie van toepassing op elke individuele Afrikaner nie, maar as iemand met die meeste kan identifiseer en oortuig is en in jou hart weet jy is ʼn Afrikaner, dan kan niemand dit bevraagteken nie. Meeste Afrikaners vind aanklank by die volgende:

·       Afrikaners is mense wat standvastig is en glo God-Drie enig.

·       Afrikaners is skeppers en bouers

·       Afrikaners is konstruktief krities oor die hede.

·       Afrikaners streef in alle omstandighede na vryheid.

·       Afrikaners het respek vir ander mede Suid-Afrikaners

·       Afrikaners is onlosmaaklik trots op ons taal en kultuur.

·       Afrikaners is omgee mense wat lief is vir hul gesinne en familie.

·       Afrikaners is diensbaar en betrokke in hul gemeenskappe by kerke, skole en organisasies.

·       Afrikaners is staatmakers om werk gedoen te kry en betroubaar om dit af te handel.

·       Afrikaners is pioniers wat grense skuif.

·       Afrikaners skep hul eie toekoms.

·       Afrikaners leer uit hul geskiedenis en handhaaf tradisies

·       Afrikaners is mense met uiteenlopende standpunte en nie skaam om dit te stel nie.

·       Afrikaners is vrydenkers en handhaaf hul standpunte en oortuigings met begrip vir andere. 

·       Afrikaners is patriotte, lief vir hulle land en die grond wat ons bewerk.

 

Afrikaners se grootste strewe vandag is na vryheid binne ʼn regverdige bestel - Met ander woorde gun ons die vryheid om Afrikaners te wees - net soos wat elke Suid-Afrikaner sy of haar identiteit en kultuur kan uitleef. Daarom kan ons ook vandag en met morele gesag van die regering en van andere vereis om hierdie vryheid waarna ons strewe te erken en te respekteer.

 

ChatGPT kan dalk in kunsmatige intelligensie probeer om Afrikanerskap te omskryf maar dit is ʼn begrip wat jy net kan ervaar en kan uitleef as jy deel van ʼn gemeenskap is. ChatGPT kan dalk nie heeltemal verstaan wat die uitdagings is wat Afrikaners vandag in die gesig staar nie.  Afrikaners het ʼn onvervreembare reg om as eiesoortige kultuurgemeenskap, net soos ander minderhede in Suid-Afrika erken te word. Afrikaners is ook voortdurend soekend na geskikte ruimtes binne die huidige soewereine bestel vir kultuur-handhawing vir Afrikaners en ander minderhede. ChatGPT mag dalk Afrikanerskap in kunsmatige intelligensie verstaan maar sal dalk nie verstaan dat Afrikaners in ʼn oorlewingstryd is nie en elke dag moet veg vir:

-       Die bevordering van Afrikaanse onderwys op alle vlakke; 

-       Die beskerming en bevordering van Afrikaans as amptelike taal

-       Die beskerming en bevordering van breë Afrikanerbelange.

-       Die bewaring van ons Afrikaner erfenisse en geskiedenis; 

Net soos ander Suid-Afrikaners is ons veiligheid in gedrang en ervaar ons plaasmoorde op ʼn ander manier. Deur geteikende vervreemding in ons eie land deur politici met vreemde agendas word ons forseer tot onderdanigheid en aanvaarding van vreemde ideologieë.  

 

Ons moet dus nie ons Afrikanerskap deur ChatGPT laat omskryf en voorskryf nie. Ons identiteit is bevestig in ons grootword en ons daaglikse leefwêreld, binne ons kultuurgemeenskap waar ons die oordrag van waardes ervaar het, binne ons geloof, binne ons siening wat ook van ons vereis om ander kulture te waardeer en te respekteer. Dit is Afrikanerskap. Afrikanerskap is ten laaste ʼn kulturele gemeenskapsbelewenis wat kunsmatige intelligensie nie sal kan ervaar nie. 

 

https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/aktueel/chatgpt-ja-daar-is-rede-tot-kommer-20230202  (Onderhoud met Prof Basie van Solms)

 

https://chat.openai.com/chat  (Registreer by die skakel en begin gesels met die ChatGPT Kletsbot)

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: