Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Maart 2023

Onteieningswetsontwerp –Eiendomsreg word opnuut bedreig

-             ANC se politieke oorlewing voorop gestel


Die Afrikanerbond is op rekord en ons wil dit weer onomwonde stel dat enige proses wat ʼn eensydige verandering in eiendomsreg voorstaan, nie aanvaar kan word nie.

 

Die Nasionale Raad van Provinsies se Gekose Komitee oor Vervoer, Staatsdiens en Administrasie, Openbare Werke en Infrastruktuur het onlangs uitnodigings gerig om kommentaar in te dien op die Onteieningswetsontwerp [B23B – 2020]

 

Die Afrikanerbond het saam met die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte ʼn beroep op belanghebbendes en belangstellende persone, instansies en organisasies gedoen om kommentaar in te dien. Die sluitingsdatum vir die aanvaarding van skriftelike voorleggings was Maandag 6 Maart 2023.  Sien onder vir die skakel na die Wetsontwerp.

 

Die oogmerk van die wet volgens die Komitee se uitnodiging is soos volg:

“Die wetsontwerp het ten doel om voorsiening te maak vir die onteiening van eiendom vir 'n openbare doel of in die openbare belang; om die prosedure vir die onteiening van eiendom vir 'n openbare doel of in die openbare belang te reguleer, met inbegrip van die betaling van vergoeding; om sekere gevalle te identifiseer waar die voorsiening van geen vergoeding regverdig en billik kan wees vir onteiening in die openbare belang; om die Onteieningswet, 1975 (Wet No 63 van 1975) te herroep; en om voorsiening te maak vir aangeleenthede wat daarmee verband hou.”

 

Die grondwetlikheid van die wetsontwerp moet opnuut bevraagteken word en dit is op die stadium onvermydelik dat die ondeurdagte kwessie deur litigasie verder geneem sal word. Alle bestaande metodes en moontlikhede is nie naasteby ontgin nie. Die ontneming en onteiening van eiendom word nou slegs ʼn simbool vir politieke doeleindes.

 

Daar moet geen twyfel by enige belanghebbende wees dat die ANC die kwessie van grond en eiendomsreg as ʼn verkiesingspeelbal gebruik en aangewend gaan word nie. Die ANC regering kan nie meer vertrou word met grond, eiendomsreg of selfs prosesse tot grondhervorming nie. Daarvoor is die bal te veel keer laat val en verbrou deur ʼn onbevoegde en onbekwame regering en onbeholpe beleidsimplementering met grootskaalse korrupsie.

 

Om in ʼn aanloop tot ʼn verkiesing en in ʼn klimaat van ʼn hoogs aanvegbare ramptoestand sonder enige regulasies, onteieningswetgewing deur te voer, skep polarisasie en verdere wrywing. In die wetsontwerp se eie bewoording is die oogmerk om “sekere gevalle te identifiseer waar die voorsiening van geen (nul) vergoeding regverdig en billik kan wees vir onteiening in die openbare belang.” Dit is reeds uiters omstrede en onaanvaarbaar.  Deur enigsins met ʼn onteieningsproses te begin veral as die ‘openbare belang’ ideologies geïnterpreteer gaan word, is nie net kommerwekkend nie en hoe ook al verdoesel en deur watter drogredenasies geregverdig is ʼn eensydige verbreking van die 1994 nasionale akkoord en ʼn ondermyning van die 1996 grondwet.

 

Een van die hoekstene van die Universele Verklaring van Menseregte handel oor eiendomsregte soos vervat in artikel 17:

1.  Elkeen het die reg om individueel en in assosiasie met ander eiendom te besit.

2. Niemand se eiendom sal arbitrêr afgeneem word nie

 

Die Afrikanerbond het wel formele kommentaar ingedien, maar ook is reeds betrokke saam met ander instellings in die burgerlike samelewing om die kwessie deeglik te oorweeg. Eiendomsreg soos gewaarborg in die Universele Verklaring van Menseregte  is nie ʼn kwessie wat in die ANC se faksiegevegte tuishoort nie en nog minder as partpolitieke kwessie as ʼn verkiesingspeelbal gebruik kan word. Die konsepwetgewing gee aan die ANC-regering die ruimte om arbitrêr grond te onteien en dit kan verdere enorme implikasies inhou vir sake en beleggersvertroue.

 

Lees die AB se kommentaar wat op 6 Maart 2023 ingedien is:

https://www.afrikanerbond.co.za/6-maart---onteiening-en-kommentaar---soos-ingedien

 

Die wetsontwerp kan afgelaai word by: 

https://static.pmg.org.za/220907B23B-2020-expropriation-GJ_2.pdf

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: