Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Mei 2023

Onwettige immigrasie is wêreldwyd 'n probleem

Deur Jaco Kleynhans

Hoof van Internasionale Skakeling by die Solidariteit Beweging

 

Die onderstaande artikel is op 28 April 2023 deur PretoriaFM As nuuskommentaar gebruik. Met die vergunning van Jaco Kleynhans en met erkenning aan PretoriaFM plaas ons graag die artikel. 

 

ʼn Onwettige immigrant is verlede naweek in Stilfontein in Noordwes met 14 handgranate in sy besit in hegtenis geneem. Verlede Desember is die liggame van 27 onwettige immigrante uit Ethiopië, wat onderweg was na Suid-Afrika, in Zambië gevind nadat hulle in ʼn vragmotor versmoor het. Volgens die Gautengse Departement van Gesondheid is meer as 40% van babas wat verlede jaar in staatshospitale in Johannesburg gebore is, van ouers wat onwettig in Suid-Afrika is.

 

Die omvang van onwettige immigrasie na Suid-Afrika is steeds onseker, maar dit is duidelik dat duisende onwettige immigrante van regoor Afrika, maar selfs die Midde-Ooste en Asië, steeds weekliks Suid-Afrika binnestroom en dikwels by misdaad betrokke is. Volgens die Internasionale Organisasie vir Migrasie, is Suid-Afrika nou die voorkeurbestemming vir migrante uit die meeste Afrikalande en selfs lande sover noord as Ethiopië, Somalië en Soedan. Immigrante is dikwels by misdaad betrokke wat in meer en meer Suid-Afrikaanse gemeenskappe tot xenofobie en spanning lei.

 

Volgens Statistiek Suid-Afrika is tussen 12% en 15% van mense wat in Suid-Afrika woon, onwettige immigrante. Tussen vyf en agt miljoen onwettige immigrante woon in Suid-Afrika. Sommige organisasies en kenners beweer dat dit selfs meer kan wees omdat Suid-Afrika nie goeie data oor onwettige immigrasie het nie.

 

Terwyl die ANC-regering vir jare niks gedoen het om onwettige immigrasie te bekamp nie, het die regerende party by sy onlangse konferensie ʼn Migrasiebeleidsraamwerk goedgekeur waarvolgens die probleem van onwettige immigrasie hanteer moet word. Die meeste opposisiepartye het die afgelope tyd ook ʼn ernstige pleidooi vir beter grensbeheer en optrede teen onwettige immigrante gevra.

 

Onwettige immigrasie is steeds wêreldwyd besig om toe te neem. Dit word veral deur ongelykheid en dramatiese demografiese verskuiwings meegebring. Die omvang van bevolkingsgroei in Afrika, veral Nigerië, Niger, die DRK en ander Sentraal-Afrikalande en sommige lande in die Midde-Ooste en Asië, soos Pakistan en Indië, skep ʼn stroom van jongmense uit hierdie wêrelddele wat ryker lande met meer werksgeleenthede en ʼn lae bevolkingsaanwas, soos die VSA en Europa, probeer bereik.

 

Miljoene onwettige immigrante het die afgelope paar jaar na Westerse lande soos Europa, die VSA, Kanada en selfs Australië gestroom. In Italië het dié land se regering twee weke gelede ʼn wetsontwerp goedgekeur waarvolgens baie strenger teen onwettige immigrante opgetree gaan word. Die regering van Rishi Sunak in die Verenigde Koninkryk het ook onlangs ʼn reeks stappe aangekondig om onwettige immigrasie hok te slaan. In Nederland, België, Duitsland, Frankryk en Oostenryk is ʼn meerderheid van die bevolkings ook gekant teen die huidige hoë vlakke van wettige en onwettige immigrasie.

 

In die VSA het Republikeine in die Huis van Verteenwoordigers onlangs ʼn omvattende wetsontwerp voorgestel wat onwettige immigrasie streng gaan beperk. Selfs die Biden-administrasie wat vir twee jaar onwettige immigrasie goedgepraat het, begin ʼn ander deuntjie te sing. Tydens Biden se eerste twee jaar in die Withuis het meer as twee miljoen onwettige immigrante die VSA uit Mexiko binnegestroom.

 

Dit is duidelik dat onwettige immigrasie wêreldwyd toeneem, maar ook dat teenstand teen immigrante in baie lande breekpunt begin bereik. Suid-Afrika se uitdagings met onwettige immigrasie en die impak wat immigrante op gesondheidsorg, die arbeidsmark, veiligheid en basiese mededinging vir dienslewering het, is enorm, maar nie uniek nie.

 

Die huidige vlakke van onwettige immigrasie is onvolhoubaar. Soos wat die VSA en lande in Europa streng nuwe maatreëls begin implementeer om onwettige immigrasie hok te slaan, sal Suid-Afrika ook dringend dieselfde moet doen.

 Lees die artikel by PretoriaFM

https://www.pretoriafm.co.za/onwettige-immigrasie-raak-wereldwyd-n-groter-probleem/

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: