Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Oktober 2023

Oordenking: Om aan te raak...

Deur dr. Jan Botha

Pretoria

 

Elkeen van ons het aanraking so nodig! Mense vereensaam al meer, kwyn, smag na aanraking en erkenning. Om gesien, gehoor, raakgeloop te word is deel van die meeste van ons se basiese verlange, behoeftes en wense.

 

Jesus het dit sekerlik ook geweet en daarom was dit so integrale deel van Sy leefwyse so tussen die mense van sy tyd. Hy het “fyn” gelewe. Niks het hom ontgaan nie. Mense was sy kernbesigheid, sy spesialisgebied asook sy daaglikse passie.

 

Daardie laaste dag, selfs ure van Jesus se lydingstyd asook sy aardse bestaan is ‘n bewys dat hy, as Sy Vader se gestuurde vir sondaars, afsmeer aan ander mense rondom hom.

 

Ons lees in Markus 15: 21 “Die soldate het iemand wat daar verbygekom het, gekommandeer om Jesus se kruis te dra. Dit was Simon van Sirene, wat van buite die stad gekom het, die pa van Aleksander en Rufus”. ‘n Vreemdeling, moontlik uit Afrika moet die bloeiende, swak en struikelende Jesus se kruis oorvat en agter hom aanloop. Hy moes maar noodgedwonge net volg.

Hy was raakgesien en gedwing om die taak te verrig. Dit het tien teen een sy lewe geheel en al verander. Hy was nooit weer dieselfde nie. Jesus het sy pad gekruis en hy was raakgesien…

 

Ons lees ook in Romeine 16 dat Paulus talle persone, goeie vriende en reisgenote bedank en groet. Vers 13 word dan spesiaal aan twee besondere mense gewy naamlik Rufus en sy ma. Daarin sê Paulus “Dra ook my groete oor aan Rufus, die voortreflike werker in diens van die Here, en aan sy moeder, wat ook vir my altyd ‘n ma was”. Wat ‘n getuienis!

 

Simon van Sirene was daar iewers terwyl Jesus op pad was, in sy lyding en bespotting na sy kruis. Gebroke, bebloed, strompelend en eensaam, alleen. Iets in Simon is aangeraak. In sy beweging agter Jesus aan het daar iets gebeur, losgekom. Hy sou en kon nooit weer dieselfde wees nie!

 

Die belewenis en gebeure het aan hom afgesmeer. Dit het sekerlik die basis gevorm van latere gesprekke, stories maar ook van ‘n ander leefwyse. Sy vrou, die twee seuns Aleksander en Rufus asook onder wat sy pad gekruis en die stories gehoor het, se lewens is ook aangeraak en verander. Hulle het seker ook soos Rufus “voortreflike werkers in diens van die Here” geword.

 

Ons het aan die begin van die gesprek gesê dat elkeen van ons het aanraking so nodig! Mense vereensaam al meer, kwyn, smag na aanraking en erkenning. Om gesien, gehoor, raakgeloop te word is deel van die meeste van ons se basiese verlange, behoeftes en wense.

 

Die vraag vanoggend is wat ek met die storie van vanoggend daagliks doen? Is dit maar net weereens “nog ‘n storie”? Is dit iets om na te volg en ‘n keuse te maak soos Simon? Kan dit my help om ook ander, wat ook soos ek aanraking nodig het, aan te raak, raak te gesien, raak te hoor en weer raakgeloop te word.

 

Dit verg moed en tonne liefde! Die omskrywing van liefde is juis volgens Isak de Villiers “om kwesbaar te wees”! Jesus het juis in sy kwesbaarheid, iets van sy liefde laat afsmeer aan Simon. Simon se kwesbaarheid het weer afgesmeer aan sy vrou, die moeder van Aleksander en Rufus. Rufus s’n het weer aan Paulus en sy mede werkers, die gestuurdes in Paulus se reis afgesmeer…

Want hulle almal was en is aangeraak deur Jesus en die vreemdeling, die man van Sirene!

·       Dr Jan Botha is Predikant by Florauna en Petronella NG gemeentes)

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: