Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Augustus 2023

Oordenking: Here leer ons bid...

Deur dr. Jan Botha

Pretoria

 

Wat ‘n versugting in tye soos die…My woorde raak op, my gedagtes maal onophoudelik en ek is so broos en weerloos.

 

Maar, in Lukas 11: vers 1 lees ons: “Op ‘n keer het Jesus op ‘n sekere plek gebid, en toe Hy klaar was, het een van sy dissipels vir Hom gesê: “Here, leer ons bid”. Soos sy dissipels destyds is ek en jy ook maar medestoftrappers, erg menslik en siende blind.

 

Ferdinand Deist het dit treffend verwoord: “Gebed hoef nie altyd ‘n vorm van mooi woorde te hê nie. Gebed is ‘n leefwyse. Gebed is om in alle omstandighede bewus te wees van God se teenwoordigheid en om te weet God is vir my. As gebed dan ‘n lewenswyse is in die voortdurende bewussyn van God se teenwoordigheid, dan weet jy, jy is in sy Heilige teenwoordigheid”.

 

Gebed word nou verwondering, verwondering oor die alledaagse want die Here my God is groot! Ek begin hom meer agter die alledaagse raak-sien, raak-hoor en raak-beleef. Agter die wolke, die flitse van Sy teenwoordigheid, in die aandwind, iets koels en kalm van Sy teenwoordigheid, in die geraas, ‘n vrede as gevolg van Sy teenwoordigheid. Dan WEET ek: Hy is daar en daar, en daar en nou ook hier, hier neffens my! Sy werke bring my hart in beweging. Die skepping is tog volgens Martin Luther die werk van sy vingerpunte.

 

Gebed word ook samesyn, daardie woordelose kontak, teenwoordig-wees, om net te-wees in die teenwoordigheid van die Drie-enige God. Dit is amper soos twee ou getroudes wat maar net neffens mekaar kan sit, wees, en sonder woorde gemaklik kan voel. Samesyn gaan ook oor ‘n stuk verstaan, ‘n veilige ruimte en diepe begrip. Iets van ‘n twee-saam-wees, intens rustig, asook vol vrede wees.

 

Sy dissipels het dit gereeld ervaar in sy teenwoordigheid. As hy vir hulle gebid het, toe hulle miskien saam gebid en geworstel het, toe hy hul leer bid het.

 

Die versugting…Here leer my bid, maak my net weer ook bewus van Jesus se eie vertwyfeling en katarsis teenoor sy Vader daar aan die kruis. Daar kon en het hy uitgeroep: “My God, my God waarom verlaat U my?” Die versugting is ook eg menslik. Ek smeek ook by tye, alles in my kom ook in verset as die onreg net toeneem. Soms wil ek hom in die rede val soos die profete in die Ou Testament en net sê: Wat nou…,wil ek uitkla en my hart leeg maak. En dit is reg so, ek mag, ek moet sy veilige ruimte gebruik om die storm te laat bedaar. Die katarsis maak vry, maak heel en gee weer perspektief want, ja want ek weet ek kan op Hom alleen reken. Hy luister, buig af na my, en is getrou.

 

As leersame kind van Hom kry ek weer hoop, want alles gaan om die begeerte om hom beter te leer ken, om hom net nog mooier te sien, duideliker te hoor en meer intens te beleef as die teenwoordige Vader, Seun en Heilige Gees.

 

Here leer ons bid… Wat ‘n versugting in tye soos die…My woorde raak op, my gedagtes maal onophoudelik en ek is so broos en weerloos. Die misterie van sy teenwoordigheid gryp my aan. Ek leef uit dankbaarheid voor hom en ek weet die dankbaarheid bring weer lewensvreugde. Lewensvreugde is op sy beurt weer aansteeklik want dit maak ‘n lied in die hart los want daar is soveel rede vir lof.

 

Het iets verander? Ja, ek het verander want ek was leerbaar en uit die leerproses kom daar nou ‘n opregte diensbaarheid. Nou kan ek ook vir ander “leer om te bid…!”

 

* Dr Jan Botha is betrokke by Alfa Pastorale Opleiding, Berading en Gemeenskap Sentrum (Gestig 1987), Vryskutjoernalis en Predikant: NG Gemeentes Florauna en Petronella, Pretoria

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: