Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Februarie 2023

Oordenking: Nuwe jaar 2023: Kyk verder!


Deur dr. Jan Botha

 

Drie- enige God…Hier aan die begin van die nuwe jaar wil ons hoop en troos by U kom soek. Daar is so baie dinge wat ons nie weet nie en van onseker is, so baie dinge wat vir ons nuut sal wees in die nuwe jaar, dinge wat op ons wag.

 

Ja, soms maak die lewe nie sin nie omdat ons so op nóú gefokus dat ons, niemand verder kyk nie!

 

Ons weet ons kan ons nuwe jaar ook sien in die lig van die geopenbaarde Woord van God. ‘n Eeu-oue verhaal uit die 6de eeu voor Christus wil vir ons ‘n ander perspektief gee, ‘n ander kyk op die toekoms en dit wat moontlik voorlê in 2023.

 

Ons lees in 2 Kon 22:2: “Josia het gedoen wat reg is...” en in 2 Kon 23:29 “maar die farao het hom ... doodgemaak”. Wat ‘n verhaal maar ook wat ‘n tragiese einde!

 

Een van die enkele konings in die Ou Testament wat na God se wil gesoek en daarvolgens probeer lewe het. Josia se vroeë en tragiese dood het die volk verslae gelaat. Hoe is dit moontlik, hoekom juis hy, hoekom juis nou?

 

Op 'n dag in 609 VC het 'n wa Josia se lyk in Jerusalem gebring. Mense met strak gesigte en baie vrae, het dit alles aanskou. Meteens het hulle wêreldjie gedreig om ineen te stort.

 

Hierdie jong koning het dan alles so met passie en oorgawe gedoen? Sy familiegeskiedenis lyk egter nie so goed nie. Ons lees in1 Kon 21:10-16 van sy oupa Manasse. Hy was so sleg dat God tydens sy bewind finaal besluit het om Juda te verwoes. Ten spyte daarvan het hy nog 55 jaar lank in Jerusalem regeer.

 

Josia was weer die teenoorgestelde. Hy was as jongmens vroom, passievol en geliefd. Die ironie is egter dat hy maar op die vroeë ouderdom van 39 sterf. Ai, was dit nodig? Hy het altyd net sy beste gegee. Sou die rouende en hartseer mense van Jerusalem dié dinge daardie dag verstaan het?

 

Josia was 'n goeie koning en die beste een sedert koning Dawid. Hy was juis so ʼn pragtige voorbeeld van iemand wat nougeset lewe en doen wat God bevel het. Hy was ook so anders as sy pa Amon. Hy het immers die tempel van al die afgode skoongemaak. Tydens die skoonmaak operasie het hul op 'n boek afgekom. Die ou boek was miskien 'n vroeë vorm van die boek Deuteronomium of selfs net enkele dele daarvan. Hy het presies gedoen wat daardie boek gesê het. Hy het al die afgode en vreemde altare oor die hele land verwoes.

 

Die volk, mense van daardie tyd het miskien gewonder: “Is dit die moeite werd om God te dien en Hom alleen te aanbid”?

 

Josia se vroeë dood kon hul fokus so verskraal het dat hulle God se breë perspektief misgekyk het. Net 20 jaar later het Israel in sy grootste krisis, die Babiloniese ballingskap beland. Josia moes weer eens die grootsheid van God se genade en verbondsliefde beklemtoon. Hy moes aan hulle uitwys en dit ook lewe dat daar net één God is wat kan help. Dit het hulle staande gehou tydens die Babiloniese ballingskap.

 

Kyk ons terug na 2022 maak baie dinge dalk glad nie sin nie. Daar was ‘n stortvloed slegte nuus soos die pandemie, beurtkrag, staatskaping, persoonlike siektes en verliese. Ja, dink ons, soveel onnodige trauma, verlies, lyding en pyn. En wat kan ons tog daaraan doen? Kyk na Josia se fokus: kyk verby 2022 en kyk verder. Die Drie-enige God is ook met ons, soos met die volk van daardie tyd op reis in 2023. Kyk net verder!


Dankie dat Ú alles weet Here. 
Dankie dat U voor ons uitgaan, en agter ons aankom. 
Dankie dat u liefde en trou ons omring, 
troos daarin kan vind dat U die Almagtig is en tog teenwoordig is, 
dat U van ewigheid tot ewigheid God is.
Dankie dat Jesus vanjaar in 2023 opnuut weer sy ewige arms oopmaak om ons te omvou en teer te versorg. 
Wil U ons dan in hierdie jaar toevou in u liefde, 
ons geloof versterk deur u Gees en 
ons hoop gee deur u Woord.

Ten spyte daarvan dat ons lewe nie altyd sin maak nie omdat ons so op die nóú gefokus is en nie verder kyk nie
Amen.

 

  • Dr Jan Botha is betrokke by Alfa Pastorale Opleiding, Berading en Gemeenskap Sentrum (Gestig 1987)’n Vryskutjoernalis en Afgetrede Predikant: NG Gemeente Mootvallei, Pretoria

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: