Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          April 2023

Oordenking: Paasfees - Teken van Jesus as verlosser

Deur Ds. Dawie Scheepers

Kimberley

 

Joh. 19:17-30 (30:) Toe Jesus die suur wyn geneem het sê Hy: “Dit is volbring”. En Hy het sy kop vooroor gebuig en sy gees oorgegee. Aprilmaand is ‘n feesmaand vir die kerk en al die gelowiges: Paasfees. Dit is seker die grootste van die Christelike feeste.

 

Vir die Jode en Christene was dit nog altyd belangrik om fees te vier tot eer van die Here. In Lev. 23 sê die Here vir Moses: Praat met die Israeliete en sê vir hulle, My feesdae, die feesdae van die Here moet julle as heilige byeenkomste uitroep.

 

En dan word daar drie feeste uit die Ou Testament by die naam genoem:

Die Pasga of die fees van die ongesuurde brood in die eerste maand van die Joodse jaar.

Die tweede fees was die Dag van Versoening in die sewende maand.

En derdens die Loofhuttefees.

 

In die Nuwe Testamentiese kerk is sulke feesvierings voortgesit en ‘n nuwe betekenis daaraan gegee. Kersfees wat saam val met die Nuwejaar fees waar daar aan die geboorte van Jesus gedink is.

 

Paasfees wat weer saamval met die Pasga waarin daar aan Jesus as die Lam van God geslag gedink word.

 

En Hemelvaart fees wat oorloop in Pinksterfees wat met die Versoeningsdag en Huttefees saamval.

 

Maar nou is dit in hierdie maand Paasfees. Die fees waarin die Christene terugdink aan Jesus se Sterwe en opstanding.

 

Net voor dat Jesus Sy laaste asem uitgeblaas en gesterf het, het Hy uitgeroep: Ek het dors. En toe gee ‘n soldaat vir hom in ‘n spons met suur wyn. En dan staan daar dat die soldaat dit op ‘n hisop tak gesit het en vir Jesus gehou het. Toe roep Jesus uit: Dit is volbring. Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas. Dit beteken dat Jesus gesterf het.

Bybel verklaarders sê dat die suur wyn op ‘n hisop tak ‘n sinspeling is dat Jesus die Paaslam is. Onthou julle nog dat die Israeliete met ‘n hisop tak van die bloed van die paaslam daarop, aan die deurkosyne moes smeer voor Israel uit Egipte verlos is. As die doodsengel dit sien sal hy by daardie huis verby gegaar. Jesus is die Paaslam.

 

Dit maak veral sin as ‘n mens daaraan dink dat die Paaslam vir die Paasfees juis op daardie oomblik in die tempel geslag is voordat die fees kon begin. Johannes die Doper noem dan te regte vir Jesus die Lam van God.

 

As Jesus se bene nie na sy dood gebreek is nie, stem dit ooreen met die opdrag dat die lam wat vir die paasfees geslag moes word se bene ook nie gebreek moes word nie.

 

In plaas daarvan dat Jesus se bene gebreek moes word, steek ‘n soldaat met ‘n spies in Jesus se sy om seker te maak dat Hy werklik dood is. Dan staan daar dat daar bloed en water uit die wond geloop het. Hy was werklik dood.

 

Die kern van die Paasfees word saamgevat in die woorde: Dit is volbring. Wat beteken dit? Dit beteken dat Hy alles gedoen het waarvan die Bybel getuig het en wat die Vader van Hom verwag het. Sy taak waarin Hy die mense van hierdie aarde moes verlos het Hy klaar uitgevoer en die gevolge daarvan sal nooit ophou nie.

 

Wat is volbring? Vers 28 sê Jesus het geweet dat alles reeds volbring is sodat die Skrif vervul kan word. Die hele Bybel van Genesis tot Openbaring wis soos ‘n pyl na Jesus. In Sy volbringing van die Skrif het Hy selfs verder gegaan. Na drie dae het Hy opgestaan. Hy lewe sodat ons ook kan lewe. Dit was die grootste gebeurtenis wat ooit op aarde plaasgevind het. Die onmoontlike het moontlik geword. ‘n Mens, Jesus het uit die dood uit opgestaan. Vir ons is dit die bewys dat ons ook eendag sal opstaan. Dit is die groot saak wat aan ons bekend gemaak is en waarvoor ons lewe. En nou het ons tydens Paasfees die geleentheid om dit te vier. Laat ons God dankie sê vir hierdie verlossing. Dit het Jesus sy bloed en sy lewe gekos om dit vir ons te bewerk. Daarom eer ons hom met ons hele lewe.

 

Ons word geroep om erns te maak met ons kerklike feeste omdat dit die kern van ons geloof vervat. Laat ons daaraan getrou bly.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: