Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Junie 2023

Oordenking: Verbasing oor die dienaar, Jesus

Deur dr. Callie Opperman 

Windhoek

 

Maar hy gaan baie nasies laat opspring van verbasing.

JESAJA 52:15

 

Vir die volk van die Here, wat in groot benoudheid was, word verlossing aangekondig. Vir meer as sewentig jaar was hulle in ballingskap, vanweë hulle sondes en volharding in afgodsdiens. Vandag is die kerk van Christus ook in benoudheid. Daar is enersyds vervolging en lyding, maar andersyds by die kerk wat vryheid beleef weer groot afvalligheid. Dan is daar ook die opkoms van grootskaalse dwaalleer in die Naam van Christus. Watter hoop is daar vir die kerk? Sal daar weer toewyding wees, sal die waarheid van die evangelie in gehoorsaamheid aan Christus steeds verkondig word? Of sal die kerk tot niet gaan, met haar invloed wat algaande sal kwyn, terwyl die magte van die duisternis net groter sal word?

 

Jesaja is destyds as profeet gestuur met ʼn boodskap van troos en hoop. Van hoofstuk 40 af word Jerusalem opgeroep tot blydskap, die Herder het nie sy skape verwerp nie, maar sal hulle weer van die uiteindes van die aarde af bymekaar maak. Die volk is steeds sy dienaar deur wie Hy sy lig vir die nasies wil laat skyn (Jesaja 42:6). Later word die titel “dienaar” gebruik vir die verlosser wat gestuur sou word. “Ek maak jou ’n lig vir die nasies sodat die redding wat Ek bewerk, die uithoeke van die aarde sal bereik.” JESAJA 49:6.

 

Hierdie boodskap word met verbasing begroet. “Konings sal sprakeloos wees oor hom, want hulle sal iets sien wat nie aan hulle vertel is nie, hulle sal iets te wete kom wat hulle nog nooit gehoor het nie.” JESAJA 52:15. Waarom die verbasing? Omdat die Here die ballingskap-volk begenadig. Die nasies het gemeen dat Juda tot niet gegaan het in die 70 jaar. Omdat die dienaar wat aangekondig word, nie sou lyk soos ʼn verlosser nie. “Baie mense was ontsteld oor hom, hy was só misvormd dat hy nie meer soos ’n mens gelyk het nie, nie meer die voorkoms van ’n mens gehad het nie.” (52:14). “Hy was verag en deur die mense verstoot, ’n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai.” 53:3.

 

Tog was dit die Verlosser, soos deur God gestuur sou word. Jesus Christus. Hy sou nie in heerlikheid kom en in die paleis grootword nie. Nee, in ʼn krip neergelê. Hy sou nie konings van hulle trone werp nie. Nee, sy ouers moes vir Herodes se moordenaar soldate na Egipte vlug. Hy sou ly onder die leiers wat Hom verwerp het, uiteindelik die bittere kruisdood sterf.

Die onaansienlike, lydende Dienaar, sou egter sy verlossingswerk voortsit. Die verbasing van die nasies sou groter word, wanneer die apostels as getuies na al die nasies uitgestuur word.

 

Is daar hoop vir die kerk vandag? Ja, want die Dienaar se opdrag gaan voort, totdat Hy weer kom as Regter en Koning. Al lyk die kerk klein en spot die wêreld met Christus die gekruisigde, sal God se raadsplan deur Hom volvoer word. Met die geloofsoog sien ons Hom. Met sekerheid verwag ons Sy koms.

 

GEBED

Waarom, Here, waarom is daar soveel spot, soveel teenkanting teen U en u kerk? Versterk ons geloof in tye wanneer ons hoop min is en ons geloof wil wankel. Rig ons oë op Jesus Christus, die magtige Koning en Regter. Amen.

 

PITKOS

My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra. JESAJA 53:11

 

* Dr Callie Opperman - Emerituspredikant - Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: