Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Mei 2023

Oordenking: Om 'n seën te wees...

Deur Dr Jan Botha 

Pretoria

 

Tydens die afgelope paar weke waarin ons Jesus se lydingsweg beleef en daardeur aangeraak is, het daar hopelik iets ook met my, ons gebeur! Beide my hart asook my verstand is aangeraak, “ge-reset”. Ek wil so graag weer voluit leef, deur die krag van Sy opstanding maar ook weer “vol wees van die Heilige Gees”. Soos die natuur spontaan verander gedurende die herfstyd, so wil ek ook hierdie seisoen in my lewe spontaan omarm.

 

Om ‘n “seën te wees vir ander” is so skouspelagtig as om die plate kosmos wat oral in blom staan te bewonder. Die wonderlike gesig is egter seisoenaal en gekoppel aan die herfs. Om ‘n seën te wees kan en moet egter permanent wees en die hele jaar lank “kosmos” voortbring.

 

Petrus sê daarom in 1 Petrus 3: 8-11 “8 Vir julle almal kom dit hierop neer: moenie dwarstrekkerig wees en elkeen sy eie kop volg nie. Wees sensitief vir mekaar se gevoelens. Soos jy jou eie broer of suster liefhet, moet julle mekaar liefhê. Gee vir mekaar om en moenie te veel van jouself dink ten koste van ander nie. 9 As iemand lelik teenoor jou optree, moet jy nie op jou beurt lelik wees nie. Hou jou skerp tong in, al beledig iemand jou. God het julle die spesiale opdrag gegee om liewer mooi te praat van ander mense en om God te vra om vir hulle goed te wees. As julle dit doen, sal julle ook van God al die goeie dinge kry wat Hy beloof het.10 Daar staan mos geskryf: “Wie van die lewe hou en die beste daaruit wil haal, moet ’n wag voor sy mond sit. Hy moet nie lelik praat of hom met allerhande liegstories ophou nie. 11Hy moet wegbly van alles wat verkeerd is en elke kans aangryp om die goeie te doen. “Bewaar altyd die vrede; dit moet julle lewenstyl wees, want die Here sorg vir die mense wat reg leef en Hy luister graag wanneer hulle met Hom in gebed praat. “Die Here dink niks van mense wat hulle heeltyd met verkeerde dinge ophou nie.”

 

Soms is die gawe van stilte juis iets wat ek moet aangryp en voor bid. Jan, bly liewers net stil asseblief, hou jou mond styf toe en bedaar…

Want woorde kan volgens Petrus mens breek:

  • Kwaadpraat vernietig mense se menswees, takel af en vertroebel verhoudinge
  • Skinder laat baie keer ongegronde feite en seer emosies toe om ander te kwes en bloot te stel
  • Om ander af te skryf, uit my lewensverhaal te verwyder en selfs kontak te verbreek, verwond talle verhoudings en almal wat daarin betrokke is
  • Om iemand sommer deur ‘n grap of selfs doelbewus af te breek, ontmenslik so persoon
  • Vernedering, af-praat of selfs net nie iemand raaksien of sy/haar se teenwoordigheid erken nie, ontmenslik die persoon

     

Petrus gaan gelukkig verder en plaas dan die klem en fokus juis op “woorde wat opbou”:

  • Om ‘n seën te wees vir ander, trouens almal wat my pad kruis. Om geur te verskaf en soos goeie speserye ‘n verskil te maak aan alles wat daarby betrokke is
  • Om deur my keurige woorde vir iemand ‘n spesiale toekoms, woorde van hoop asook visie te skep
  • Om altyd met dank en waardering op te tree. Om deur die woorde “dankie” en “asseblief” weer respek, dankbaarheid en erkenning te betoon
  • Om weer eer, met opregtheid asook liefde iemand te bemoedig, aan te praat en “op te lug”

 

Om dus ‘n “seën te wees” vir ander vereis volgens Petrus dat ek altyd verantwoordelik met elke gedagte, emosie, ja selfs met my lyftaal sal omgaan. Dat ek ekonomies met my woorde sal wees, hulle noukeurig sal weeg en tel.

 

Doen alles in liefde en met fyn aanvoeling!

Onthou en leef dus Petrus se woorde ook in die kosmos seisoen maar ook elke dag van jou lewe! “God het julle die spesiale opdrag gegee om liewer mooi te praat van ander mense en om God te vra om vir hulle goed te wees. As julle dit doen, sal julle ook van God al die goeie dinge kry wat Hy beloof het”.

 

·        Dr Jan Botha is betrokke by Alfa Pastorale Opleiding, Berading en Gemeenskap Sentrum (Gestig 1987), Vryskutjoernalis en Predikant: NG Gemeentes Florauna en Petronella, Pretoria

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: