Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Junie 2023

Afrikanerbond 105

Volkskas en die rol van die Afrikaner-Broederbond 

 

Op 5 Junie 2023 is die Afrikanerbond en sy voorganger die Afrikaner-Broederbond 105 jaar oud. Dit is ʼn merkwaardige viering van ʼn organisasie wat verskeie hoogtepunte beleef het. Dit is ewe merkwaardig dat lede en die strukture in die agtergrond soveel bygedra het tot die ekonomiese groei van magtige industrieë en besighede in die land.

 

In 1998 het Volkskas Bank deel van die ABSA groep geword. Netwerk24 het op 24 Mei 2023 in ʼn artikel deur die joernalis Albe Grobbelaar, berig oor oom Bossie, (Joseph Jacobus Bosman), wat Volkskas begin het. 

 

In die artikel word verwys na die jong Bossie Bosman se droom van ‘n Afrikaanse bank en ‘n Afrikaanse winkelgroep. “Maar daar sou baie water in die see loop en verskeie mislukte pogings wees voordat hy met die hulp van ‘n klompie vriende daarin slaag om in 1934 ‘n spaar-en-kleinleningsbank te stig. ‘n Volksbank wat hulle Volkskas noem.”

 

Dit was meer as net vriende. Dit was die ideaal van die Afrikaner-Broederbond en sy lede wat die netwerk van ‘vriende’ gevorm het. Oor die verwysing na ‘n klompie vriende, moet dalk net meer besonderhede gegee word vir perspektief. In September 1930 word JJ Bosman hoofpenningmeester van die Afrikaner-Broederbond in die Uitvoerende Raad van die organisasie. Daar kon nou aktief gewerk word in die strukture om die gedagtes wat in die Afrikaner-Broederbond ontwikkel is tot uitvoer te bring.

 

Prof Ernst Stals het in fyn besonderhede in hoofstuk 2 van die boek wat in 2021 bekendgestel is geskryf oor die totstandkoming van Volkskas en die rol van JJ Bosman.

 

Onder volg uittreksels uit die boek: Die Broederbond – Die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 1918-1994 deur ELP Stals met voorwoord deur Hermann Giliomee.   

 

Die afdeling Potchefstroom het reeds in 1924 aan die oprigting van 'n Volksbank oorweging gegee en (Prof.) L.J. du Plessis is derhalwe nou ná hierdie gebeure deur die UR versoek om inligting oor die aangeleentheid te versamel.

 

Die kwessie is weer verder geneem op 'n UR-vergadering van 12 Augustus 1933.  soos volg saamgevat: "Maar vra hom (die Afrikaners) om die kredieteuwel te bestry, om spaarsin te verkondig, om 'n afdelingsfonds op te bou – dan doen hy iets; dan voel hy dat hy werk doen." Hoofpenningmeester J.J. Bosman het volgehou dat die stigting van 'n "Volksbank" wel 'n bereikbare praktiese oogmerk was. Die UR het derhalwe op sy voorstel tydens dieselfde vergadering besluit om 'n komitee saam te stel wat die stigting van volksbanke moes oorweeg.

 

Die praktiese taak wat die AB hom by wyse van die UR-besluit in Augustus 1933 ten doel gestel het, het in die drie jaar wat daarop gevolg het tot die stigting en vestiging van Volkskas as 'n Afrikaner geïnisieerde bank gelei. Die UR het op 12 Augustus 1933 op voorstel van sy Hoofpenningmeester J.J. (Bossie) Bosman 'n komitee saamgestel, bestaande uit dr. J.P. van der Merwe, J.H. Greijbe, L.J. Erasmus, I.M. Lombard en Bosman self. Die onderliggende doel was om 'n spaarbank te skep, deur middel waarvan Afrikaners se geld gemonster kon word om groter ondernemings te finansier. Die ondersoek is binne die beperkte kring van die komitee self uitgevoer en hulle het hulle verslag op 3 Maart 1934 aan die UR voorgelê.

 

In die verslag, wat deur die UR aanvaar is, is die noodsaaklikheid van so 'n bank benadruk en die vorm daarvan en die stigtingsprosedure uiteengesit. Aangesien die Tesourie nie bereid was dat dit as 'n volwaardige handelsbank geregistreer word nie, is die onderneming Volkskas (Koöperatief) Beperk genoem. Die aanwysing van die eerste direksie het by 'n groep van 25 stigterslede berus. Dit was dus nog net 'n koöperatiewe vereniging en sou sy kapitaal deur die uitreiking van £1-aandele verkry. Die fondse wat Volkskas by wyse van deposito's (of oop rekeninge), spaarrekeninge en vaste beleggings ontvang het, kon as gewaarborgde voorskotte (d.w.s. oortrokke rekeninge) en lenings aangewend word. Volkskas se doel was om 'n spaarsin en gesamentlike beleggings in verdienstelike ondernemings te bevorder. So sou 'n gevoel van ekonomiese samehorigheid bewerkstellig word en die strewe was om mense te help om selfstandig verder te kon gaan. Met die oog hierop moes die klein spaarbedraggies tot "'n magtige fonds" saamvloei. Lede moes deur 'n landwye netwerk van takkantore en agentskappe bedien word. In die komitee se verslag is verder aangevoer dat die vermeerdering van rykdom wat só bewerkstellig sou word, ook aan die kulturele strewe van die Afrikaner prestige sou verleen. Die UR het daartoe ingestem dat die Hoofsekretaris en Hoofpenningmeester van die AB tydens hulle jaarlikse afdelingsbesoeke inligting oor Volkskas kon verskaf.

 

Die komitee het die groen lig van die UR ontvang om met die werklike stigting van Volkskas voort te gaan. Sowat 55 AB-lede uit Pretoria, die Witwatersrand, Heidelberg, Brits, Nylstroom, Amersfoort, Potchefstroom en so ver as Bloemfontein, Pietermaritzburg en Kimberley, het op 3 April 1934 die stigtingsvergadering bygewoon. Van hulle het 28 persone 'n totaal van 605 aandele opgeneem en 'n beroep is op alle afdelings gedoen om hulle steun aan die onderneming te gee. Die vereiste minimum getal van 5000 aandele was vroeg in Julie 1934 volskryf en die maatskappy is gevolglik kragtens die Wet op Koöperatiewe Vereniginge geregistreer. Bosman is deur (Proff) L.J. du Plessis en J.C. van Rooy as die aangewese persoon beskou om bestuurder van Volkskas te word en die UR het hom gevolglik in Oktober versoek om die bestuur op hom te neem en terselfdertyd ook voorbereidingswerk vir ander ekonomiese aksies te verrig. Fondse vir sy salaris is uit die AB se begroting en van die kant van die FAK beskikbaar gestel. Bosman het intussen ook 'n jaarlikse bonus van ongeveer £100 vir sy dienste as Hoofpenningmeester van die AB ontvang en hy kon hom dus voltyds aan hierdie take wy.

 

Volkskas het hierna as selfstandige finansiële onderneming ontwikkel. Die fondse wat hy hanteer het, het binne 'n jaar tot meer as £15 000 gegroei en die instelling is op 3 Oktober 1935 ook as bank geregistreer. Agt maande later het die direksie die steun van AB-afdelings gevra om die bank se ingeskrewe kapitaal tot £100 000 op te stoot. Die onderneming het dus 'n sukses geblyk te wees. 'n Noue band is steeds met die AB gehandhaaf en Bosman het jaarliks verslag oor die instelling aan die Bondsraad gedoen. L.J. du Plessis, wat 'n besondere belangstelling vir hierdie en ander Afrikaner finansiële ondernemings gehad het, het hom tussen 1936 en 1938 aan die werksaamhede van die UR onttrek om meer aandag dááraan te spandeer. Die direksie is deurgaans uit AB-lede saamgestel. Tot 1936 is die aanspreekvorm "Broer" steeds in sekere bankkorrespondensie gebruik. Baie klem is op die sentiment gelê dat die bank die AB se skepping was en die ondersteuning van die Bond se lede was vir die instelling baie belangrik. Daar is herhaaldelik beroepe op AB-lede gedoen om hulle invloed te gebruik, sodat die rekeninge en fondse van instansies waaraan hulle verbonde was na Volkskas gekanaliseer sou word. Op dié wyse het individue, kerkrade, vroue- en kultuurliggame en 'n verskeidenheid ander instansies bygedra om krag aan die onderneming te verleen. Nogtans het baie Afrikaners, onder wie ook Bondslede, voortgegaan om van die dienste van ander gevestigde finansiële instellings soos Barclay en Standard gebruik te maak. Dit moet ook nie uit die oog verloor word dat Afrikaners se geld reeds oor baie jare heen in veral versekeringsmaatskappye soos SANLAM en SANTAM en selfs Ou Mutual belê was nie.

 

Die totstandbrenging van 'n spaar- en handelsbank het egter net een van die drie bene verteenwoordig waarop die UR en AB die ekonomiese opheffing van die Afrikaner wou laat staan. Naas die monstering van die Afrikaner se kapitaalkrag, moes daar ook instellings gevorm word om die produsent en verbruiker te ondersteun. Soos in die geval van Volkskas, moes ook die landbou en die handelswêreld met behulp van koöperatiewe ondernemings betree word. 

 

Hieroor word daar in die boek verder uitgebrei.

 

Skakel na die artikel in Netwerk24

https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/onthou-jy-nog-volkskas-oom-bossie-se-bank-20230522

 

Meer oor: Die Broederbond – Die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 1918-1994 deur ELP Stals met voorwoord deur Hermann Giliomee.   

VOLG DIE SKAKEL

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: