Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          September 2023

Woord deur die voorsitter.

Deur Dries Wiese

Voorsitter van die Nasionale Raad

 

‘n Jaar terug het die Afrikanerbond by die Voortrekkermonument ‘n Bondsraad gehou met die Tema - Afrikaners brugbouers na die toekoms. Tydens die opening van die Bondsraad het ek ʼn aantal simboliese brûe uitgelig wat ons fokus vir die Bondsraad en daarna is. Die laaste simboliese brug wat ek vermeld het, is die deelname aan die politieke herskikking sodat ons ʼn veilige tuiste vir Afrikaners kan skep

 

Ons het in die jaar wat verby is op vele terreine die fondasies gelê of stewige vordering gemaak in die bou van die simboliese brûe. Die brûe tussen Afrikaners het momentum gekry in die laaste jaar maar die laaste maand het ons opnuut besef wat die verwagtinge is van die politieke herskikking. Die belangrike gesprekke en die Veelpartyhandves vir Suid-Afrika is ʼn belangrike baken op die weg na die 2024 verkiesing. Ons het die ondertekening van die Veelpartyhandves vir Suid-Afrika vooraf ondersteun en ons het die leiers sterkte toegewens en ook op uitnodiging insette gelewer. Die insette is gelewer op sterkte van ons dekades-lange betrokkenheid in die staatkundige belang.   

 

Ons staatkundige belang word ook ondersteun in ons benadering van die eie en nasionale belang wat aansluiting vind in ons visie van “As Afrikaners bou ons saam aan die toekoms van Suid-Afrika” Dit is nie ʼn visie vir Suid-Afrika nie, allermins. Dit is ons visie vir die Afrikanerbond en daardie Afrikaners wat in die lengte en wydte van ons land woon en werk en elke dag ʼn verskil in hulle gemeenskappe maak. Dit is ons visie vir Afrikaners wat Suid-Afrika as hulle tuiste beskou en terdeë bewus is daarvan dat hulle lotgevalle ineengestrengel is met die van alle Suid-Afrikaners. Dit is ons visie vir Afrikaners wat hulleself nie kan of wil isoleer van Suid-Afrika nie, maar terselfdertyd streef na groter outonomie wat eie sake betref gepaardgaande met kuturele vryheid.

 

Ek het in die afsluiting van ons Bondsraad wat op koalisies gefokus het, gesê dat ons in die hede opnuut weer ‘n onwerkbare en onvolhoubare politieke bestel het. Soos in die 1980s moet ons weer vir mekaar sê tot hiertoe en nie verder nie. Anders as in die 1980s kan ons nie van binne af verander nie, en moet ons eksterne vennote vind saam met wie ons weer moet meewerk aan die verandering van die polities- staatkundige bedeling. Daar is al meer gesprekke en aksies vir deelname  aan ‘n burgerlike koalisie. ʼn Belangrike vereiste van soveel insette tydens die Bondsraad was die pleidooi tot die opposisie om leiding te neem in die soeke na ʼn nuwe koalisie. Daaruit het gespruit dat ons dan moet hande neem met die opposisie wat reeds in die party-politieke proses begin het met koalisies. Vandag ʼn jaar later kan ons die bloeisels sien van die ideaal.

 

Daarom is dit ook vir ons belangrik om die Veelpartyhandves vir Suid-Afrika te begin bevorder. ʼn Eerste belangrike en simboliese stap is dat die Afrikanerbond die Handves na Afrikaans laat vertaal het en maak ons dit graag beskikbaar vir ons lede vir bespreking. (Sien skakel aangeheg) -

Engels - Oorspronklike getekende weergawe: https://online.fliphtml5.com/hwiua/fjiy/

Afrikaans – https://online.fliphtml5.com/hwiua/pemn/ Soos vertaal deur die Afrikanerbond 

 

Ek het ook by Die Bondsraad ter afsluiting gesê wat kan en behoort die Afrikanerbond te doen?

  • Ons moet deelneem aan gesprekke oor politieke en staatkundige hervorming
  • Ons moet deel wees van die noodwendige herskikking wat moet volg.
  • Ons moet vir Afrikaners ‘n toekoms beding binne die herskikking en ons kan dit slegs doen as ons deel is daarvan. Prakties gesproke kan die Afrikaner Manifes hopelik teen einde September vanjaar deur die meeste beduidende Afrikaner organisasies geteken gaan word as basis waarmee ‘n nuwe Akkoord met die regering gesluit kan word.
  • Ons moet ons kundigheid optimaal aanwend.

 

Ons het kennis geneem dat President Ramaphosa onlangs tydens die UDF se veertig jaar viering erken het dat Wit, Bruin en Indiër Suid-Afrikaners uitgesluit voel. Dit is eintlik verbasend dat die president nou eers die erkenning maak want dit is al lankal onder sy aandag gebring. Daarom moet ons ook opnuut die diversiteit van Suid-Afrika bevorder. Suid-Afrika is immers ʼn veelheid van tale en kulture. In die maand wat ons Erfenisdag vier moet ons daarom ook weer die fokus plaas op die toekoms. Eenheid deur diversiteit. Is dit nie waar koalisiepolitiek se krag in die toekoms gaan lê nie? Is die toekoms nie ook geleë in politieke tuistes vir minderhede en groepe nie? Die toekoms is duidelik nie in assimilasie in ʼn verengelsde omgewing nie.

 

In aansluiting by Erfenisdag en die bevordering van taal en kultuur: Op 27 Augustus was dit ook die 90-jaar viering van die Bybel in Afrikaans. Wat ʼn merkwaardige viering is dit nie. Daarom bring ons ook langs die weg hulde aan hulle wat betrokke was en die stryd gestry het en wat dit vandag nog steeds doen om die Bybel in ons moedertaal in ʼn verstaanbare Afrikaanse idioom daar te stel.

 

Die Afrikanerbond se balans in die eie en die nasionale belang moet al ons aksies deurentyd evalueer. Ons is Christen Demokrate in ons begronding en dit vra vir meelewing en solidariteit met ons medemens. Ons sien dit elke dag in die omgang met mekaar en met ons mede- Suid-Afrikaners. Waar ons in September ook weer die wêreldbekerrugby en in die aanloop gesien het watter versoeningskrag daar in sport is, moet ons dit koester. Ek word telkens herinner aan ons Credo waarin ons telkens verklaar dat ons “eie belange en dié van ons mede-Afrikaners onlosmaaklik verbind is aan dié van elke ander Suid-Afrikaner en elke ander volksgroep in Suid-Afrika, en dat die belang van elke ander Suid-Afrikaner daarom ook óns belang is.”

 

Laastens, dink net vir ‘n oomblik na die volgende posisionering van ons Bond, naamlik; Dit is Afrika dan Suid-Afrika en dan die Afrikanerbond. As organisasie  is ons vir 105 jaar deel van hierdie kontinent, ook van Suid-Afrika waar ons in belang van die redelike en billike Afrikaner optree en die beste oplossings voor soek. Die akker is egter groot en die arbeiders moet drasties meer! Wat ‘n geleentheid!

Daar is werk!

 As Afrikaners bou ons saam aan die toekoms van Suid-Afrika. Wees Sterk! 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: