Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Junie 2023

Woord deur die voorsitter

- Ons is soos doelwagters - heeltyd besig om te keer


Deur Dries Wiese 

Voorsitter van die Nasionale Raad 


’Ons het die voorreg gehad om as Nasionale Raad weer op 26 en 27 Mei 2023 by Die Eike in Randburg bymekaar te kom. Ons kon besin oor die projekte waarby die Nasionale Raad by betrokke is, die provinsiale aktiwiteite en ook veral ons verteenwoordiging by ander organisasies soos die Rapport Onderwysfonds, die Afrikaanse Taalraad, Die Voortrekkermonument en Erfenisstigting, die Afrikaner Leiersgesprek, MentorVennoot en dan nog vele ander inisiatiewe soos veiligheid, die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte.


As ons so luister na die terugvoer dan is elkeen in die Afrikaner kultuurakker besig met ʼn groot klomp aksies en vervul dit ons met trots dat Afrikaners so ongelooflik goed georganiseerd is. Dit herbevestig opnuut dat die kultuur en organisasielewe gesond is en kan Afrikaners dankbaar wees dat soveel instansies oor so ʼn verskeidenheid terreine aktief betrokke is. Daar is egter ook ʼn mate van ongerustheid want het ek vir die Nasionale Raad ook gesê dat dit voel asof Afrikaners soos die doelwagter in die doelhok is. Ons is net die heeltyd besig om die onvermoë en onbevoegdheid van die regering af te weer. Ons moet voortdurend die balle wat in die vorm van wetsontwerpe is probeer afkeer en stop.


Net so bemoei die Afrikanerbond en die Nasionale Raad hom nie met aktiewe politiek nie maar die politiek bemoei hom met die Afrikaner en die mense van Suid-Afrika. Ons regering het ʼn hulpelose regering geword en in stede daarvan om effektief te regeer word die onvermoë aangespreek deur verskillende wetgewing waarmee ons gebombardeer word. Ons het in groot besonderhede die implikasies van die Wet Op Gelyke Indiensneming bespreek. Die Wet is reeds deur die president geteken, en kommentaar kan nou op die konsepregulasies gelewer word tot 11 Junie 2023. Ons is reeds besig hiermee. Ons kan op die stadium ook nie uitsluit dat die Afrikanerbond in die toekoms moontlik as ʼn Vriend van die Hof (Amicus Curiae) tot Solidariteit se regsgeding oor die wetsontwerp en die regulasies kan toetree nie. Hiermee het ook die Afrikanerbond ʼn klemverskuiwing in optrede gemaak. Ons moet sigbaar ons verset begin demonstreer. Die wet wat die werksplek deur rasbesoedeling gaan beheer doen presies dit wat die ANC in sy eie 1994 beleidsverklaring wou keer. In die ANC dokument getitel Affirmative Action and the New Constitution word sewe beginsels geformuleer wat as riglyn vir die implementering van regstellende aksie moet geld. Een hiervan is verantwoordelikheid en die ANC stel dit: “We do not, however, want to become a nation of groups all walking around with calculators doing head counts and demanding special programmes for this group or that.” Dit is presies wat die regulasies gaan doen en elke maatskappy sal nou aanstellings moet maak op grond van voorafbepaalde syfers ten einde raskorrek te wees. Ons kinders en kleinkinders gaan aan die ontvangkant wees van die wetgewing en regulasies as ons nie standpunt gaan inneem en regsoptrede gaan oorweeg nie.


Die wetgewing kan egter nie op sy eie beoordeel word nie. Saam met die Onderwyswet (BELA), die Onteieningswet, die wet op Haatspraak en haatmisdade en veral die beoogde Gesondheidsversekering Wetsontwerp moet ons ons gereed maak vir al meer uitdagings.  Ons word al meer gereguleer deur ʼn regering wat dinge deur wetgewing wil regtimmer terwyl die basiese dinge nie behoorlik gedoen word nie. Ons moet ook die heeltyd in gedagte hou dat die regering gedryf word deur uitgediende ideologieë wat al meer staatsinmenging en sentralisering voorskryf.  


Ons land is gevolglik nie op ʼn goeie plek nie. Beurtkrag en die skrikwekkende onvermoë van die regering, plaasaanvalle, dorpe soos Graskop wat geterroriseer word, voorstede wat vir dae aaneen sonder krag is omdat kabels gesteel word, ekonomiese laagtepunte in die Rand en groei, Russiese bote en vliegtuie op ons strategiese plekke soos hawens en lughawens en dit alles maak ons opreg bekommerd.

 

As Nasionale Raad is ons dankbaar vir politieke opposisiepartye wat die regering op hulle tone hou en organisasies en instansies in die burgerlike samelewing wat beleidsraamwerke in wetgewing in die howe uitdaag en toets. Dit is die regte ding om te doen. Onbetrokkenheid in politiek beteken nie dat die politiek jou nie gaan raak of affekteer nie. Ons bemoeienis is dus om mee te werk aan ʼn stelsel wat ʼn regverdige bedeling tot gevolg gaan hê. As dit beteken dat ons moet meewerk daaraan om die ANC uit die regering te verwyder, dan moet ons dit doen. Daarom kan ons nie apaties wees nie.

 

Prof Stephan Joubert se dagstuk in Beeld op 25 Mei 2023 is besonder van toepassing op dit wat in die voorafgaande geskryf is. Hy skryf soos volg:

Om in Suid-Afrika te leef, is meer as net ‘n uitdaging. Dit is ‘n roeping. Kom ons wees eerlik: Dis makliker in ander Westerse lande as hier. Daar oorkant die waters is dit veiliger, skoner, meer ordelik en meer voorspelbaar. Hoe sê die mense nou weer: “Alles werk daar!”

In Suid-Afrika moet jy elke dag kies om jou kop op te tel, om vas te byt en om nie moedeloos te raak nie. Hier tussen kapers, korrupte politici en uitbuiters wat die nuustoneel gedurig oorheers, moet jy aanhoudend kies om ‘n najaer van goeie nuus te wees. Hier kos dit ‘n tweede kyk om te sien hoeveel goedgesindheid en deernis daar steeds onder mense bestaan. En hoe mense mekaar dra en ondersteun. Hier vra dit ‘n geloofskyk om te sien hoe die Here sy kinders gebruik en hoe Hy op wonderbaarlike maniere aan hulle uitkoms gee. Hier kos dit guts om te leef, maar hier is dit ook vreugdevol . . . as jy geleer het om die Here se goedheid op nuwe maniere te sien en te beleef.

Moet jou nie ontstel oor die kwaaddoeners nie; moenie afgunstig wees op hulle wat kwaadwillig optree nie, want soos gras verdor hulle vinnig, en soos groen plante verwelk hulle. Vertrou op die Here en doen die goeie, bewoon die land en waak oor betroubaarheid. Vind jou vreugde in die Here, dan sal Hy jou gee wat jou hart begeer. Psalm 37:1-4


Terug na die doelwagter analogie. Tydens die onlangse vergadering van die Nasionale Raad het ek net weer besef dat alhoewel ons ons saam met ander organisasies in die openbare ruimtes almal die hele tyd besig is om te keer, stuit, om te verhoed, om andere wat afbreek te stop, daar ook goeie nuus is. Ons moet daarom erkenning gee aan  Suid-Afrikaners, wit en swart, wat wel opbou, wat wel nalatenskappe vestig , wat omgee en wat nuwe instellings tot stand bring.

 

Op 5 Junie 2023 is die Afrikanerbond en sy voorganger die Afrikaner-Broederbond 105 jaar oud. Dit is ʼn merkwaardige viering van ʼn organisasie wat verskeie hoogtepunte beleef het. Lees gerus in die nuusbrief die Afrikaner-Broederbond se stille bydrae en medewerking aan die stigting van Volkskas in die vorige eeu deur die kragtige inspirasie van ʼn individu Br Bossie (JJ) Bosman.  Net soos wat ons sy rol uitlig, huldig ons in die 105-jaar viering die besondere bydrae van soveel ander wat ons vooruitgegaan het. Ons eer hulle nagedagtenis. Ook ons gelukwensinge aan elke lid wat in 2023 die vaandel van die Afrikanerbond, sy strewes en sy doelstellings hoog dra. 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: