Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Maart 2023

'n Woord deur die voorsitter en dagbestuur

 

Die Nasionale Raad van die Afrikanerbond het tydens ʼn vergadering op 2-3 Maart 2023 by Die Eike in Randburg gekonstitueer vir die termyn 2023-2026. Br Dries Wiese van die Noord-Kaap is as Voorsitter herkies, dr Louis du Plessis van Gauteng-Suid is as ondervoorsitter verkies en br Andries Domburg van die Wes-Kaap as lid van die dagbestuur.

 

Die Nasionale Raad het afskeid geneem van die volgende lede wat die volle termyn uitgedien het: Br Pieter Vorster van die Vrystaat wat sedert 2007 in een of ander hoedanigheid gedien het, brs Paul Vorster van Limpopo en Willem Rossouw van Wes-Kaap wat sedert 2010 gedien het en br Braam Pieterse van Noordwes wat as gevolg van gesondheidsredes die tuig neergelê het. Die NR wil graag hiermee hul opregte dank namens alle Broers teenoor hierdie drie broers uitspreek, wat alles in hul vermoë gedoen het om deur die NR die Afrikanersaak met lof te dien. Baie dankie nogmaals.

 

Die Nasionale Raad vir die 2023-2026-termyn met portefeuljes is.

•          Dries Wiese (Noord-Kaap), Finansies en beleggingsbestuur

•          Louis du Plessis (Gauteng-Suid), Taalkwessies en ledesake

•          Andries Domburg (Wes-Kaap), Ekonomiese herskikking, ondernemingsgees, kreatiewe leierskapontwikkeling

•          Danie de Kock (Noordwes), Regskwessies en wetgewing

•          Ronnie Elliot (KwaZulu-Natal), Digitalisering, besigheidsnetwerk en jeugsake

•          Philip Nel (Mpumalanga), Organisasies, skakeling en kultuurfeeste

•          Francois Saayman (Vrystaat), Landbou en infrastruktuur

•          Nico Stofberg (Wes-Kaap), Onderwys en opvoeding

•          Jacques Swanepoel (Limpopo), Veiligheid

•          Karel Tredoux (Gauteng-Noord), Geskiedenis, erfenis en kultuur

•          Jan Bosman (Hoofsekretaris, ampshalwe), Politiek en staatkunde

 

In intense gesprekvoering oor ʼn aantal aktuele sake het die Nasionale Raad bekommernis uitgespreek oor die huidige toedrag van sake in die land. As Afrikaners is ons lojaal aan die land en sy mense. Mark Twain het tereg gesê "Wees altyd lojaal aan die land, maar lojaal aan die regering net wanneer dit verdien word."

 

Afrikaners het oor talle dekades 'n toonaangewende rol gespeel om Suid-Afrika landboukundig, ekonomies en kultureel te ontwikkel. Dit is weerspieël in prestasies sedert die stigting van die Afrikaner-Broederbond in 1918 en in die leidende rol wat lede in die samelewing gespeel het. Lede van die bond het ook bygedra om die kiestelsel in die 1980s en die 1990s te verbreed. Met idealisme het lede daaraan gewerk dat ook die Afrikanergemeenskap 'n regmatige plek in 'n nuwe bedeling sal bly beklee.

 

Net soos wat lede vrae gestel het oor die werkbaarheid van die politieke bedeling voor 1994, doen hulle dit ook tans oor die nuwe bedeling. Die demokrasie wat die nuwe grondwetlike bedeling gebring het, voldoen in 2023 nie aan die verwagtinge nie. Nie as gevolg van ʼn grondwet of die staatkundige bedeling nie, maar as gevolg van ʼn regering wie se moraliteit skouspelagtig van die hoogtes van 1994 getuimel het na nuwe laagtepunte. Daar gaan bykans nie ʼn dag verby waarin nuwe korrupsie of ellendige leierskap nie pertinent gedemonstreer word nie. 

 

Suid-Afrika – die Republiek - is in die moeilikheid. Die bewyse word gevind op gebiede soos diensleweringsbetogings, die ineenstorting van infrastruktuur, 'n daling in die standaard van onderwys, eskalerende korrupsie, misdaad, xenofobie, afwesige politieke uitvoerende leierskap, min parlementêre oorsig. Hierdie probleme is die gevolg van regeringsbeleide wat óf swak uitgevoer is, óf nie bestaan nie weens onbevoegdheid en ’n gebrek aan vaardighede, en die ANC-beleid van kaderontplooiing (hersirkulering van swak bestuur). Laastens is dit ondenkbaar dat die ANC so arm aan leierskap kan wees. Indien wel so is dit ‘n baie groot bekommernis aangesien dit blyk dat die huidiges reeds by hul rakleeftyd verby is.

 

Ons het opnuut tot die besef gekom dat Afrikaners ʼn enorme en wesenlike bydrae het om te lewer tot die land en sy mense en dat dit elke dag tog wel plaasvind ten spyte van groot struikelblokke. Die grootste struikelblok is waarskynlik te vinde in politieke besluite en beleidsraamwerke wat ondeurdag is en eerder uitgediende ideologieë gedienstig is eerder as wat dit Suid-Afrika dien.

 

Ons is trots daarop om vandag opnuut te bevestig dat ons patrioties en lojaal staan teenoor ons land en ons neem graag hande met diegene in Suid-Afrika, wit, bruin en swart wat die land wil laat werk, suksesvol, volhoubaar en tot voordeel van almal. 

 

Afrikaners is nie meer soos in die verlede te vinde eerstens as vegters in loopgrawe en met geweer in die hand nie. Vandag se Afrikaners veg om oorlewing, veg vir ʼn taal waarvoor hy lief is, die behoud van sy kultuur. Ons veg vir die oues van dae, die weerloses, vir hulle wat nie self kan voorsien nie, vir die jeug, wie se toekoms die mensdom se toekoms is.

 

Saam met die leiers van ander organisasies neem ons as eensgesinde Afrikaners die strydbyl op as ons veg vir ons veiligheid, vir kwaliteit onderwys, vir ʼn gelyke en billike werksomgewing, vir landbou wat die hoogste produksie kan lewer, en vir ʼn kulturele omgewing wat ons geskiedenis en ons erfenisse bevorder. Saam met andere neem ons die strydbyl op vir ʼn politieke omgewing wat werklike demokrasie bevorder en waarin reg en geregtigheid geskied. Ons is dit eens dat ʼn politieke herskikking moet plaasvind sodat ʼn land geskep kan word vir die soort ekonomiese ontwikkeling wat ook vir Afrikaners 'n veilige en volhoubare tuiste vorm.

 

Afrikaners is deel van Suid-Afrika. Dié feit is ʼn gegewe. Ons kan nie maklik weggewens word deur die regerende party of politieke leiers wat floreer op haat en rewolusionêre retoriek nie. Ons bydrae kan gesien word in die infrastruktuur en industrieë wat ons opgebou het.

 

As Afrikaners is ons hier om in Suid-Afrika te bly, ons glo dit is so beskik deur God en gaan dit dus verder maak werk. Suid-Afrika is ‘n wonderlike land. Dit is net sy regering se leiding en wyse waarop hy regeer waarmee ons onder geen omstandighede kan saamstem nie.

 

Die Afrikanerbond beywer hom op elke terrein daarvoor dat Suid-Afrika so gou as moontlik doeltreffend, vaardig en eerlik regeer sal word. Dit is ons strewe.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: