Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Kersfees Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Desember 2023

Woord deur die Voorsitter: Suid-Afrika - Ons kan soveel meer wees

 

Deur Dries Wiese

Voorsitter van die Nasionale Raad 

 

In onlangse meningspeilings van die Centre for Risk Analysis van die Insitituut van Rasseverhoudinge blyk Suid-Afrikaners meer negatief te wees oor die land as ʼn jaar of meer gelede. Op ʼn vraag of respondente se lewe, dieselfde of erger daaraan toe is het 53.9% van die respondente geantwoord dat dit slegter is teenoor die 48.4% van ʼn jaar gelede. Op ʼn vraag of respondente dink dat die lewe oor 5 jaar beter gaan wees het 43.8% van respondente eerder gedink dat dit nog slegter sal gaan. Dit teenoor die 34,3% van Suid-Afrikaners wat ʼn jaar terug gedink het dit sal slegter wees.

 

Dat dit ʼn effek sal hê het op mense se keuse om te gaan stem is beslis. Van al die respondente het 80.8% aangedui dat hulle beslis sal stem en 2.3% het aangedui dat hulle moontlik sal stem teenoor 13.8% wat aangedui het dat daar ʼn 50/50 kans is dat hulle sal stem . Slegs 1,7% het aangedui dat hulle nie gaan stem nie en 1.4% het aangedui dat hulle nie weet nie of het geweier om te antwoord. Dit is dalk die taak van elkeen van ons om daardie 13.8% wat 50/50 voel oor hulle stem te beïnvloed. Mense kan nie krities wees langs braaivleisvure, die kerstafel, by informele gesprekke en dan ewe grootsprakig aandui dat hulle nie gaan stem nie. Verantwoordelike burgerskap plaas op elkeen van ons die verpligting om te gaan stem. So kan ons ʼn klein verskil maak, net soos wat een punt in die rugbywêreldbeker die Springbokke telkens van ʼn oorwinning en die finale wen verseker het kan ʼn stem al die verskil in die wêreld maak.  Dieselfde peiling plaas die ANC tans op ʼn 41.8% steun teenoor 46.5% van ʼn jaar gelede.

 

Veral insiggewend is die prioriteite wat ʼn regering behoort te hê.  Elke respondent moes die top 2 uitlig. Hierin kom ʼn ander prentjie na vore. Hiervolgens is respondente se voorkeure as prioriteit vir die regering soos volg Werkloosheid en werkskepping (47%) korrupsie (22%) Mishandeling teen vroue en kinders (18%) Elektrisiteit of beurtkrag (16%) Onwettige immigrasie (14%), misdaad en veiligheid en sekuriteit (12%) Water en sanitasie(12%) Onderwys (7%) Gesondheidsorg (7%) Swart ekonomiese Bemagtiging (7%) Behuising (7%) Armoede (6%) Infrastruktuur (5%) Dienslewering (5%) Ongelykhede in die samelewing (4%) Rassisme (3%) Grondhervorming (1%).  

 

As die data gelees word saam met die onlangse “The Good, the Bad and the Ugly” scenario’s van die Brenthurst Foundation dan wil dit tog voorkom as of die glas dalk eerder halfvol is as haf leeg. Hiervolgens is die ANC se dominante meerderheid besig om onder hulle uit te glip tot voordeel van die opposisie maar dat die DA en die EFF ver verwyderd is van mekaar wat beleid aanbetref.  Die vrae wat die Brenthurst Foundation dan vra in die gevolgtrekking dat ons onderweg is na ʼn koalisieregering is:

  • Gaan die jongmense inkoop in die politieke stelsel en stem?
  • Ontevredenheid word al hoër maar al minder mense stem
  • Deelname aan die politieke stelsel is besig om af te neem en dit verswak die regering se mandaat.

Gevolglik is daar in hulle peiling baie groot steun naamlik 78.6% steun vir ʼn koalisie van politieke partye wat Suid-Afrika moet regeer. Daarom is dit insiggewend om kennis te neem van die vereistes van die Brenthurst Foundation wat gestel word met betrekking tot die toekoms:

  1. Ons moet beweeg van ʼn dominante party na ʼn koalisie
  2. Geen groei sal plaasvind sonder investering, beleidsekerheid en aanspreeklike regering nie. 
  3. Goeie regering vereis ʼn regstaat “rule of law” aangesien dit belangrik is in ʼn opkomende gemeenskap en groei in die ekonomie – Hierin wys hulle uit dat Suid-Afrika (volgens die Global Organised Crime Index) is Suid-Afrika 19e uit 193 lande is wat kriminaliteit aanbetref, 5e van 54 lande in Afrika en 1e van 13 lande in Suidelike Afrika.
  4. ʼn Vaardige staatsdiens met die privaatsektor wat nodig is om die ekonomie te laat groei
  5. ʼn Aanpassing in buitelandse beleid in ooreenstemming met groot handelsvennote sal investering en handel bevorder.

 

Saam met my en ander lede van die Nasionale Raad en die hoofsekretaris was dit ʼn voorreg om die Veelpartyhandves vir Suid-Afrika se gesprek op 28 November 2023 te Boksburg te kon bywoon . Die doel met die geleentheid was vir die Veelpartyhandves van Suid-Afrika bestaande uit 8 politieke partye (Demokratiese Alliansie, Inkatha Vryheidsparty, Vryheidsfront Plus, ActionSA, ACDP, ISANCO, United independent Movement en Spectrum National Party) om in gesprek te tree met organisasies in die burgerlike samelewing. Die interaksie met politieke leiers was waardevol en insiggewend en kom mens diep onder die indruk van die politieke leiding wat geneem is om te begin met samewerking met die oog op ʼn toekomstige koalisie. Die program is afgeskop met kort insette van partyleiers. Daarna kon organisasies in twee sessies voor en na middagete bydraes lewer. Daar was n verskeidenheid van organisasies in die burgerlike samelewing en enkele insette is ook aanlyn uit die buiteland gedoen. Van die organisasies wat teenwoordig was sluit in Accord, Afriforum, die Afrikanerbond, Brenthurst Foundation, Centre for Innovative Leadership, Defend our Democracy, die NG Kerk, FW de Klerk Stigting, Funeral Industry Reformed Association (FIRA), Youth Employment Accelerator (Harambee), Helen Suzman Foundation, Inclusive Society Institute, Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), Johannesburg Chamber of Commerce, Kaapse Forum,  National Community Dialogue, Ndifuna Ukwazi, Operation Watershed 2024, the Organization Against Tax Abuse (OUTA), SACanWork, South African Jewish Board of Deputies (SAJBD), Solidariteit, Solidariteitsbeweging, the United South African Movement (TUSAM), Youth Lab, Afrikaanse Taalraadl), GroupsRUs, Teubes Family Wines en Wesco Forensic Services.

 

Dit is duidelik vanuit die insette van die burgerlike samelewing dat daar baie gemeenskaplike knelpunte is soos misdaad, ekonomie, onderwys, beurtkrag, korrupsie en dan ook insette oor prioriteite vir ‘n nuwe regering. In hulle dankwoord het die politieke leiers gesamentlik die mening uitgespreek dat die vergadering geweldig konstruktief en leersaam was. Hulle was van mening dat dit hartsverblydend en bemoedigend is dat Suid-Afrikaners wat uiteenlopende groepe en belange in ons samelewing verteenwoordig, bymekaar kan kom en mekaar met respek kan behandel, sowel as begrip het en respek het vir verskillende opinies. Hulle was die mening toegedaan dat daar veel meer is wat ons verenig as wat ons verdeel.

 

Dit moet natuurlik ook van meet af aan gesê word dat die Veelpartyhandves nie die enigste speler in die veld is nie en natuurlik moet daar baie water in die see loop. Ons vind egter sterk aanklank by die breë manifes standpunte wat aanlyn gelees kan word. https://online.fliphtml5.com/hwiua/pemn/

In sy aanbieding het die hoofsekretaris baie duidelik gestel dat die Afrikanerbond volgens sy grondwet "nie party-polities verbonde nie maar moedig ons ons lede aan om by die politieke party van hul keuse betrokke te wees." Ongelukkig het die politieke omgewing elke dag 'n invloed op Afrikaners en ander minderhede en gemeenskappe in Suid-Afrika en kan ons nie wegstaan as die politiek ons belange bedreig nie. Die Afrikanerbond se Credo rig ons egter ook om in die samelewing

  • die fundamentele regte van elke indiwidu en elke groep in hierdie land met vasberadenheid te verdedig;
  • ons te beywer vir die uitskakeling van diskriminasie op elke terrein waar dit voorkom;
  • ons te beywer vir die handhawing en uitbouing van alle inheemse tale, met besondere klem op Afrikaans;
  • die aard en wese van 'n ware demokratiese staatsbestel te beskerm en bevorder en enige ondemokratiese aspekte en neigings met mening bestry; en
  • alles in ons vermoë doen om geregtigheid, billikheid en die hoogste etiese en morele waardes in Suid-Afrika te bevorder.

Daarom sê ons Credo dat die Afrikanerbond waar nodig en toepaslik, saamwerk met die Owerheid en Staatsinstellings op alle vlakke en met alle patriotiese organisasies in die Burgerlike Samelewing om die gemeenskaplike doelwitte te bereik. In die lig van die voorafgaande verklaar dit die Afrikanerbond se betrokkenheid. Lees gerus die verkorte inset van die hoofsekretaris in die nuusbrief. 

 

Uit al die voorafgaande is dit duidelik dat ons anders moet dink oor die toekoms en besef dat ons elkeen ʼn bydrae kan maak tot die groot verskil wat nodig is. Ons beleef dit ook in die interaksie met ons vennote in die burgerlike samelewing en by al die projekte waarby ons betrokke is. Die AB was aktief die jaar deur middel van ons nuusbriewe, standpunte, besprekingsdokumente, webinare, ons vergaderings ons virtuele gesprekke op WhatsApp en vele ander terreine. Dit is onlangs bevestig by die Nasionale Raad se vergadering wat by die Voortrekkermonument gehou is. Ons word opgewonde en kry inspirasie uit die wenne van 2023. Rugby wêreldbeker en ander sportspanne soos die Blitsbokke wat pas die Dubai reeks gewen het. Ons kry inspirasie deur die goeienuus stories van die Voortrekkermonument en die bou projekte van die Solidariteitsbeweging sowel as die inspirerende aksies van die FAK en vele meer.

 

Die land is egter wat politiek en die regering aanbetref nie op ʼn goeie plek nie en die aanloop na die 2024 verkiesing het begin. Die gety móét draai. Ons moet egter ook aanvaar dat bewindverandering nie sonder moeilikheid of tyd gaan wees nie. Ons kan energie daaraan spandeer om dit te maak gebeur en daarom ons betrokkenheid by burgerlike gesprekke en die hande neem met die politieke partye. Ons is egter ook terdeë bewus dat meer partye in ʼn koalisie betrokke moet raak en is ons net so diep bewus daarvan dat ons nie ʼn politieke party is nie, maar dat ons ons wel kan en moet beywer vir verandering vir die land en sy mense. 

 

Dit is weer daardie tyd van die jaar om dankie te sê.

 

My opregte dank aan die lede van die Nasionale Raad vanuit  al die verskillende provinsies wat moeite doen met deelname en bywoning van vergaderings. Ook dankie aan die dagbestuur van die Nasionale Raad wat my help om my te fokus op die regte sake.  Weer eens dankie aan die Christiaan de Wet Fonds se direksie asook lede en ons FINKOM wat ons finansies so gesond bestuur. Groot dank ook dat hulle ingestem het om Die Eike te voorsien van sonpanele.  Laastens aan ons Hoofsekretaris en Finansiele/admin beampte wat hul ook telkens en opnuut weer uitstekend van hul taak gekwyt het ‘n groot dankie. Aan elke lid van die AB wat die AB uitleef deur die onderskeie netwerke ons opregte dank. Ons waardeer die bydrae van elke lid tot ons gemeenskap en sien uit daarna om saam met julle voort te bou op 'n sterk fondament van kultuur, identiteit en samehorigheid. Dit is die AB in aksie en hiermee doen ons elkeen ons bes om te strewe na uitnemendheid.

 

2024 gaan sy eie nuwe uitdagings bring. Die Afrikanerbond sal dan 106 jaar oud wees en ook dit bring nuwe geleenthede maar weet ons ook dat ons ledetal besig is om af te neem.  In my eie oortuiging sukkel ek egter om te aanvaar dat daar nie 500 000 Afrikaners lede van die AB is nie. Waarom nie? Daarom moet ons proaktief werk aan die werkswyse en doelwitte van die Afrikanerbond. Hiermee is die Nasionale Raad intens besig en doen ek ‘n op ernstige beroep op alle lede om ons organisasie te versterk deur opregte Afrikaners as lede te werf. Die kriteria wat ons onder andere kan toepas wanneer ons vir inskakeling evalueer is 4 G’s en 1x A wat staan vir Geloof, Gesin, Gemeenskap en Geskiedenis en dan laastens Afrikaans. Daar is baie waarskynlike kandidate daar buite. Kom ons begin by elkeen van ons om uit te brei en nie te wag vir ander nie!. Neem elkeen hierin leiding asseblief.

 

Namens die Nasionale Raad van die Afrikanerbond, myself en my eggenote Charlotte, is dit dan nou ʼn besondere voorreg om u elkeen, ʼn geseënde Kersfees toe te wens. Met die naderende feesseisoen wil ek graag 'n oomblik neem om aan elke lid net ons beste wense oor te dra. Mag die Christusfees ʼn tyd van vreugde en viering wees, gevul wees met liefde, vrede en harmonie vir julle en jul geliefdes. Net soos wat ons huise verlig is met die teenwoordigheid van Kersfees in ʼn tyd van saamwees, is dit my wens dat dit ook ʼn tyd mag wees van samewerking en eenheid onder ons mense. Mag hierdie feesseisoen julle harte vervul met vreugde en dankbaarheid.

 

Mag die nuwe jaar gevul wees met voorspoed en geleenthede vir groei in die AB, vir ons land en sy mense.

 

Aan Hom wat ons beskerm en bewaar het kom al die lof en eer toe

 

Geseënde Christusfees!

 

Wees Sterk.  

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: