Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Oktober 2023

Woord deur die Voorsitter  - ʼn Desperate ANC is gevaarlik vir die minderhede van Suid-Afrika

Deur Dries Wiese

Voorsitter van die Nasionale Raad

 

ʼn ANC wat desperaat aan die mag vasklou is gevaarlik. ʼn Desperate ANC sal enige strooihalm gryp en dit maak die lot van minderhede gevaarlik. Die ANC het sy oog op die 2024 verkiesing  en sal daarom verbete voortgaan om die grondwet te minag en sy eie ideologie te bevorder.

 

Ons sien hoe verskillende stukke wetgewing reeds die jaar sonder inagneming van die grondwetlikheid daarvan ʼn enorme effek op minderhede gaan hê. Die BELA wetgewing het Afrikaanse onderwys as teiken. Die wet op Billike Indiensneming het minderhede in sy visier. Die Nasionale Gesondheidsversekering het privaat mediese sorg as teiken, die Onteieningswetsontwerp [B 23 – 2020] sal 'n verwoestende impak op alle Suid-Afrikaners hê, veral in die konteks van ekonomie, huiseienaarskap en voedselsekerheid. Die Prevention and Combating of Hate Crimes and Hate Speech Bill gaan haatspraak nog verder omskryf en ons weet wat die effek daarvan gaan wees.

 

Die pas afgelope week is ʼn straatnaam in Johannesburg weer verander terwyl die infrastruktuur verbrokkel. Dit kan gesien word as net nog ʼn straatnaam maar Dr William Nicol was ʼn teoloog en het met ywer gewerk aan die uitbreiding van Afrikaanse skole.

 

In dieselfde week is die Nasionale Beplanningskommissie wat die Nasionale Ontwikkelingsplan moet hersien, se beplande perskonferensie gestop deur senior regeringsamptenare. Ons het in die media gelees dat die verslag hoogs krities is en wys daarop dat die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) sy teikens en doelwitte wat met ongelykheid, armoedevlakke, werkgeleenthede en werkloosheidskoerse, energie, 'n lae-koolstof-ekonomie, BBP, ekonomiese groei en beleggingsvlakke te make het, almal gemis is. Uit die samevatting van die verslag lees ons “In plaas van 'n bevoegde staat waarop die plan gebaseer is, het ons 'n toenemend korrupte staat; in plaas van 'n soomlose beplanningstelsel het ons ʼn onsamehangende beplanningstelsel wat swak geïmplementeer en nie belyn is met die strategiese doelwitte van die NDP nie.”

 

Wat eweneens belangrik is is die verwysing in die verslag dat “Sosiale samehorigheid en kohesie van die regering se prioriteitslys afgeval en oppervlakkig verwoord word.” Ons het dit beleef. Afrikaanse skole word geteiken in Gauteng omdat die regering nie self die skole kan bou wat die behoefte aanspreek nie, die Afrikaanse taalmonument in Paarl was deur die verantwoordelike minister aangespreek oor die Afrikaans in sy benaming en so kan ons aangaan. Die onderwyswetgewing wil uitnemende skole verander in onderwysslagvelde.

 

ʼn Paar jaar gelede het die ANC leierskap in gesprek met Afrikaner organisasies erken dat hulle die versoeningsbal laat val het. Niks is egter daaraan gedoen nie. Nou skud die Beplanningskommissie ook die regering se hok oor sosiale kohesie.   

 

Apartheid word voortdurend blameer vir die foute van vandag. As daar egter een kernwaarheid is wat Afrikaners wel in sy net meer as veertig jaar aan bewind geleer het is dat Suid-Afrika net kan slaag as die interafhanklikheid van alle Suid-Afrikaners tot mekaar, erken word en gerespekteer word. As Afrikaners het ons eintlik baie laat in ons bereiking van politieke volwassenheid besef dat ons dit nie toegepas het nie. Ons sien en beleef nou ook daagliks hoe ons al hoe meer ʼn ongelyke samelewing word en waar ons al hoe meer ʼn samelewing word wat al hoe meer verdeel word langs ras- taal en kulturele lyne. Daarom kan ons nie vandag stilbly nie.

 

Ons interpretasie van die ANC desperaatheid onderweg na 2024 is dat al meer aksies en uitsprake gaan plaasvind wat goeds vir Suid-Afrika voorspel nie en veral beteken dit ‘n verslegtende situasie vir minderhede:

  • Regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging gaan verskerp word om kader-ontplooiing ter wille te wees.
  • Sekere ekonomiese hoekstene soos eiendomsreg gaan toenemend onder druk kom. Faksies van die ANC se uitsprake skep reeds binnelandse en buitelandse onsekerheid.
  • Suid-Afrika se voedselsekuriteit gaan in gedrang kom met die onvermoë van die staat om grondhervorming redelik en billik toe te pas en uit te voer en gevestigde belange te beskerm.
  • Ons onderwys gaan al hoe meer verswak met die toenemende houvas en mag van onderwysvakbonde en die onwilligheid van die regering om die hele onderwyskrisis te bestuur.

o  Die ANC-regering se voortdurende gedobbel met die skolestelsel en ondeurdagte modelle het sedert 1994 tot die volgende mislukkings gelei:

  • Outcomes-Based Education, (OBE),
  • Revised National Curriculum Statement (RNCS)
  • Curriculum Assessment Policy Statement (CAPS)
  • Meer as 80% disfunksionele skole volgens onderwyskundiges
  • Voor 1994 was dit "Liberation before Education" wat opeenvolgende generasies in die Suid-Afrikaanse samelewing ingevoer het wat geen na swak onderwys ontvang het. Die ANC kan nie roem op onderwysprestasies nie, inteendeel net soos die huidige energiekrisis, is dit een van die ANC erflatings wat nog baie generasies gaan neem om te herstel.
  • Dit is ouers en beheerliggame wat skole bestuur tot vlakke en eilande van uitnemendheid. Dit moet eerder aangemoedig word maar die eilande van uitnemendheid pas nie die ANC se strewe na middelmatige substandaard nie.
  • Dienslewering sal toenemend verswak aangesien die kundigheid en ervaring veral in die tegniese areas wat betref dienslewering ontbreek.
  • Die belastinglas gaan al hoe swaarder lê by alle belastingbetalers – dit moet gesien word teen die agtergrond van die al hoe groter wordende maatskaplike veiligheidsnet wat toelaes en gratis behuising, medies en onderwys insluit.
  • Misdaad neem in felheid toe en is die regering se harde uitsprake oor misdaad ongelukkig nie te bespeur in die harde realiteit wat elke dag deur alle Suid-Afrikaners ervaar word nie.

 

Die burgerlike samelewing en veral minderheidsgroepe behoort al meer sy stem te verhef teen die vergrype van vandag.

 

Die tyd is nou meer as ryp dat ons die grondwetlike ruimtes inneem wat aan ons gebied word en nie langer staatmaak op die regering om dit vir ons te doen nie. Daarom kan ons net slaag as ons die ruimtes wat die grondwet bied, opneem saam met die diverse gemeenskappe en minderhede van Suid-Afrika.

 

Hiermee dan ook ‘n beroep op elke lid van die Afrikanerbond en elke Afrikaner om veel groter erns met ons toekoms te maak. Die helpende hand sal ons in ons eie mou moet vind.

 

Naskrif: Op ʼn persoonlike noot het ek die week net weer die krag van ons eie netwerk besef. Mens is oorgelewer aan genade in die plattelandse gebiede en ʼn vragtrok van my het gaan staan in die Ventersdorp omgewing. Dankie aan die lede in ons netwerk vir wie ek uiteindelik kon skakel om die drywer van hulp te wees en op die wyse gehelp het om my uit die penarie te help. Hiermee het ek net weer Broerskap beleef.   

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: